Die streng regulasies van die inperkingstydperk maak dit nou moeiliker om jou gunsteling-velsorgprodukte in die hande te kry, en boonop is professionele gesigbehandelings buite die kwessie. Volgens dr. Ian Webster, ’n spesialis-dermatoloog van Somerset-Wes en medestigter van die aanlyn velsorgwinkel Dermastore, sal ’n weeklikse gesigbehandeling tuis baie help om jou vel mooi te hou. 

Dr. Ian Webster

Dr. Webster stel die volgende tuisbehandeling voor:

1. Verwyder grimering en enige vuiligheid met miselwater.

FOTO Instagram / Huxley

2. Reinig dan jou vel met ’n sagte reiniger om enige oorblywende vuiligheid te verwyder. 

3. Wend ’n masker aan wat afskilfer en verhelder (wees op die uitkyk vir woorde soos exfoliatingclarifying of brightening op die verpakking). Spoel ná die aanbevole tyd af.

4. Sit ’n bevogtigende gesiglappie-masker op jou gesig en ontspan.

5. Haal die masker af en masseer enige oortollige produk van die masker in jou vel in.

6. Sodra dit ingetrek het, wend vogroom aan.

WENK

Jy kan jou gesig net ná reiniging stoom om van toksiene ontslae te raak. Volgens ’n onlangse mediaverklaring van die skoonheidshuis Dr. Schrammek help stoom om die vuiligheid in jou porieë los te maak en sodoende kan die produkte wat jy daarna aanwend, nóg beter geabsorbeer word. 

Kook water en gooi dit in die wasbak. Gooi ’n handdoek oor jou kop en maak seker jou gesig is direk bo die wasbak. Stoom jou gesig vir so 5-10 minute.