Sure wat in velsorg ingespan word is dalk ’n vreemde idee, maar dis ’n wonderlike oplossing vir verskillende veltipes en -kwessies.  

Maar meer spesifiek is alfahidroksisure (AHA) ’n superbestanddeel in velsorgprodukte wat help om jou vel af te skilfer, te verhelder asook tekens van velveroudering soos fyn lyntjies en plooie te versag. 

Alfahidroksisure is organiese suur wat in sekere kossoorte aangetref word. Dink maar aan druiwe, appel, suikerriet, melk en sitrusvrugte. Volgens ’n mediaverklaring van Nimue dien AHA’s as ’n afskilferingsmiddel wat help om dooie velselle te verwyder en die vel liggies af te skilfer sonder om die vel te beskadig.

Voordele:

1. Verhelder en vernuwe

Alfahidroksisure soos glikolsuur (vernuwe), melksuur (bevog) en sitroensuur (verhelder) kan stelselmatig deel van jou velsorgroetine vorm by wyse van tuissorgprodukte soos serums en maskers of professionele behandelings soos ’n chemiese afskilfering. 

’n Duidelike verskil is ongeveer binne 8 weke sigbaar, sê Heidi Cerfontyne, opleidingsbestuurder by Nimue Skin Technology. “Alfahidroksisure help om beskadigde velselle te herstel.” Só word die vel se voorkoms helder, meer egalig en lyk jonger.

FOTO Instagram / REN

2. Voorkom aknee

Dooie velselle, olie en sebum wat porieë verstop, veroorsaak grotendeels aknee. Wanneer jy velsorgprodukte gebruik wat AHA's inspan, sal dit help om die olie, sebum en dooie velselle te verwyder wat jou porieë verstop.

FOTO Instagram / Harpers Bazaar US

3. Versag fyn lyntjies en plooie

AHA's help om die “gom” wat beskadigde, ouer velselle op die veloppervlak hou, te verswak. Sodra dit verwyder is, lyk jou vel helderder en lyntjies en plooie lyk meer egalig. 

Begin eers met velsorgprodukte wat ’n laer konsentrasie van alfahidroksisure bevat, jy kan ook chemiese afskilferingsbehandelings probeer.

Probeer die produkte:

1. Nimue Hyaluronic Ultrafiller (R1 180) By uitsoeksalonne.

2. Gatineau Body Lotion with A.H.A (R585)

3. Glamglow Supertoner Exfoliating Acid Solution (R590)

4. REN Ready Steady Glow Daily AHA Tonic (R610)