Vitamien C is deesdae ’n sterbestanddeel in talle velsorgprodukte, en met goeie rede. Dié alles-in-een-antioksidant het nie net die vermoë om jou vel teen besoedeling en sonblootstelling te beskerm nie, dit wakker ook kollageenproduksie aan en laat jou vel straal! 

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Hoekom werk vitamien C so goed?

Dit help om velinflammasie te voorkom en ontwrig die proses waardeur pigmentasie vorm, wat dit ’n belangrike bestanddeel maak om ’n jonger, helderder gelaat te verseker.

Só beskerm dit jou vel teen die skadelike Desember-son:

Vitamien C beskerm jou vel teen sonskade, wat tot verkleuring, pigmentasie en, nog erger, velkanker kan lei, deurdat dit die vrye radikale neutraliseer wat deur UV-blootstelling vrygestel word.

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Kyk watter voordele vitamien C inhou vir jou vel:

1.  Bevorder kollageenproduksie

Fyn lyntjies en plooie is iets wat elke vrou probeer voorkom. ’n Vitamien C-serum is hoogs gekonsentreer en bevat antioksidante wat kollageenproduksie aanhelp, wat weer help om die vroeë tekens van veroudering te voorkom.

2. Verminder donker kringe onder jou oë

Vitamien C help om jou velkleur meer egalig te laat lyk en kan selfs donker kringe onder jou oë verminder.

3. Beskerm jou vel teen sonskade

Dit help om jou vel teen UVA- en UVB-sonstrale te beskerm. Omdat vitamien C ’n antioksidant is, versterk dit jou vel om sonskade makliker af te weer.

4. Help om jou vel bevog te hou

As jy met ’n droë of gedehidreerde vel sukkel, benodig jy beslis vitamien C. ’n Hoë konsentrasie van vitamien C is ideaal om jou vel bevog te hou.

5. Voorkom verkleuring en pigmentasie

Vitamien C help om rooiheid en enige vorm van verkleuring te voorkom. Jou velkleur lyk dan meer egalig.

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Hoe kies ek die regte tipe vitamien C-velsorgproduk?

Probeer ’n vitamien C-serum. Dis geskik vir die meeste veltipes en mans sowel as vroue kan dit gebruik. Diegene met volwasse aknee moet egter oppas, want dié serum kan moontlik jou vel irriteer. Wend die serum een tot twee keer per dag ná jou verfrisser aan. Gebruik net ’n klein hoeveelheid aangesien dit hoogs gekonsentreer is.

Het jy geweet?

Aangesien vitamien C ’n antioksidant is, het dit ’n beperkte rakleeftyd. Die molekules oksideer sodra dit aan lig, hitte en lug blootgestel word. Indien die serum van kleur verander en geel vertoon, het die produk verslaan en sal dit minder effektief wees. Bêre jou serum op ’n koel, donker, droë plek. Wees ook op die uitkyk vir formules wat nie water bevat nie of spesifiek geformuleer is om die vitamien C langer te laat hou.

Probeer dié produkte:

1. The Body Shop Vitamin C Skin Boost Instant Smoother (R250)

2. Clinique Fresh Pressed Daily Booster (R470)

3. Dermalogica BioLumin-C Serum (R1 495)