Aktiewe bestanddele wat goed nagevors en kragtig is en sigbare resultate lewer, raak ál meer die goue standaard in velsorg. Maak retinol vandag nog deel van jou roetine.

Ons almal ken dié wonderlike bestanddeel en is bewus van die fantastiese voordele wat dit vir jou vel inhou. Tog is ons onseker oor wanneer ons retinol aan ons vel stelselmatig moet begin “voorstel.”

In ons twintigs begin ons bewus van velveroudering soos fyn lyntjies rondom ons oë, sonskade en pigmentasie raak. Teen ons vroeë dertigs is die tekens ál meer sigbaar. Om voorkomend op te tree, kan jy al voor die ouderdom van dertig retinol deel van jou velsorgroetine maak. Raadpleeg jou dermatoloog al van jou middel twintigerjare sodat jy betyds retinol begin gebruik.

RETINOL

BESTE VIR TEENVEROUDERING

FOTO Instagram / Lamelle RSA

WAT IS DIT?

Vra enige velsorgkenner oor hul gunsteling-velsorgbestanddele en retinol is byna altyd bo-aan hul lys. Dis geen verrassing nie. Dié suiwer vorm van vitamien A het ’n magdom voordele vir jou vel en navorsing het bevind dis een van die effektiefste bestanddele teen vroeë veroudering weens sonblootstelling.

HOE WERK DIT?

Retinol kommunikeer met jou vel se DNS waar dit onder meer die vervaardiging van nuwe selle aanhits en keer dat kollageen afgebreek word. Dit behandel ook donker vlekke, aknee, ’n onegalige veltekstuur, plooie en fyn lyntjies. “Ek glo enige persoon, jonk en oud, wat sonskade op hul vel opgedoen het, behoort ’n vorm van retinol te gebruik,” sê dr. Ian Webster, ’n spesialis-dermatoloog op Somerset-Wes en medestigter van die aanlyn velsorgwinkel Dermastore.

OM TE WEET

Die meeste retinolprodukte is in ’n serum te kry. Omdat dit baie aktief is, kan dit in die begin jou vel effens rooi en droog laat voel. Begin deur ’n produk met ’n lae konsentrasie retinol eers net twee of drie keer per week saans te gebruik. Sodra jou vel gewoond is daaraan, kan jy na hoër konsentrasies oorslaan en die aantal aanwendings vermeerder. Vermy retinol terwyl jy swanger is of borsvoed.

ONTHOU
’n Goeie breëspektrumsonskerm met ’n SBF van minstens 30 is steeds onontbeerlik in jou daaglikse velsorgroetine. Dit bly jou beste wapen teen velveroudering weens UV- en infrarooiblootstelling.

Probeer die produkte

As jy nog nooit retinol gebruik het nie:

Avéne A-Oxitive Night Peeling Cream (R410)

Vir ’n sensitiewe vel:

Lamelle Corrective 3.0 RA Serum (R780)

Vir ’n olierige vel:

Exuviance Blemish Treatment Gel (R430)

Vir pigmentasie:

pHformula Vita A Rejuvenating Mask (R710)

Vir gevorderde velveroudering:

Dermaceutic Activ Retinol 1.0 Intense Anti-aging Serum (R1 360) Beskikbaar aanlyn by www.dermastore.co.za