Soos die verspreiding van die Covid-19-virus die dodetal in lande soos Italië, Spanje en Engeland drasties laat styg het, het ons daaglikse roetine meteens verander. Buiten die streng maatreëls om sosiale afstand toe te pas en van die huis af te werk, word almal gemaan om gedurig hul hande met seep of handreiniger te was om die moontlike oordrag van kieme na jou mond, oë of neus te vermy.  

Business Insider berig aanlyn dat die beste manier om die verspreiding van die virus teen te werk, is om gereeld jou hande te was en te steriliseer. Maar as gevolg hiervan voel baie van ons se hande nou styf, droog en sensitief. Handreinigers vernietig kieme doeltreffend, maar dit stroop ons hande van natuurlike vog. Die hoë alkoholinhoud beskadig ons vel se lipiedlaag wat help om natuurlike vog en olies ingeseël te hou.

via GIPHY

Dit kan ook dermatitis veroorsaak. Dermatitis is ’n veltoestand waar jou vel sensitief voel en rooi en jeukerig is. Jou vel kan dan klein skeurtjies vorm wat gevaarlik is as jy aan kieme blootgestel word.

Jou aksieplan:

1. Kies ’n handreiniger of seep wat voedende en voggewende bestanddele soos aloe vera of vitamien E bevat. Dit help om jou hande te steriliseer sonder om dit uit te droog. 

2. Maak seker dat jy jou hande deeglik afspoel en dat geen seep of handreiniger agterbly nie.

3. Moenie jou hande met baie warm water was nie. Louwarm water is voldoende en sal nie die vog in jou vel stroop nie.

4. Wend deurlopend ’n goeie handeroom aan. Net soos wat ons daarop fokus om ons hande te steriliseer, moet ons ook nie vergeet om seker te maak dat ons hande goed bevog bly nie.

Probeer dié produkte

1. Goodleaf CBD Hand Cream (R295). Beskikbaar aanlyn by www.goodleaf.co.za

2. Mixa Restoring Hand Cream (R60)

3. Sorbet Salon Pro Replenishing Hand Cream (R55)

4. Skin Republic Hand Repair Anti-aging Mask (R45)

5. Chanel Le Lift La Crème Main (R1 205)

6. Burts Bees Lemon Butter Cuticle Cream (R125). Beskikbaar by Dischem of aanlyn by Takealot.com

7. Woolworths Shea Butter & Honey Hand Cream (R40)