Ons almal ken die goue reël, mooi van binne beteken mooi van buite. Jy is wat jy eet en jou leefstyl het ’n groot invloed op hoe jou vel, naels en lyf lyk. Deur net ’n paar veranderinge te maak kan jy ’n groot verskil sien. 

Volgens SOLAL, ’n maatskappy wat spesialiseer in die navorsing van natuurlike medisyne en teenveroudering, is daar drie maklike dieetaanpassings wat jy kan maak vir ’n gesonder, stralende vel. Eet lae-GI-kosse, sorg dat jy genoeg vitamien C inkry, en verhoog jou inname van omega 3-vetsure. Monique Piderit, dieetkundige van Johannesburg, gee raad oor hoe jy meer van dié kosse kan inkry.

1. Lae-GI-kosse

Hoë bloedsuikervlakke het ’n negatiewe impak op jou vel se vermoë om kollageen te vorm, wat tot plooie kan lei. Boonop het dit ’n invloed op jou hormoonvlakke, wat aknee kan veroorsaak. Dis dus voordelig vir jou vel om suikerryke kosse uit te sluit. Probeer om meer groente, vrugte (dit bevat natuurlike suikers), hawermout en boontjies te eet.

2. Vitamien C

Dié vitamien help kollageenproduksie aan. Dit help om jou veltekstuur egalig te hou en die voorkoms van fyn lyntjies te versag. Eet gerus meer lemoene, aarbeie, pynappel, mango, broccoli en papaja.

3. Omega 3-vetsure

Dié waardevolle vetsure het natuurlike anti-inflammatoriese eienskappe. Vette is ’n baie belangrike bestanddeel van die selmembraan, wat help om vog in die vel te bewaar. Dit help om die vel plomp, soepel en sag te hou. Eet genoeg vetterige vis, soos salm, sardientjies en forel. 

FOTO: Getty/Gallo Images

Ná ’n besige week is dit belangrik om jou bietjie oor die naweek te pamperlang. Dit gee jou kans om te herstel en vernuwe. Werkende ma? Sukkel jy met pigmentasie ná die geboorte van jou kind? Probeer dié vrugteskommel wat jy blitsig kan maak en boonop propvol antioksidante is wat jou vel voed en pigmentasie van binne beveg.

FOTO: Getty/Gallo Images

Maak dié vrugteskommel:

- 1 koppie onversoete amandelmelk

- 2 eetlepels ertjieproteïene

- 1 klein piesang (vars of bevrore)

- 3/4 koppie bloubessies

- ’n Hand vol spinasieblare

- 1/2 avokado

Meng al die bestanddele saam in ’n voedselverwerker of versapper en geniet dadelik.

Probeer ook dié produkte:

1. SOLAL Vitamin C Serum (R419)

2. SKOON Rosehip C+ Concentrate (R619). Beskikbaar aanlyn by www.skoonskin.co.za en uitsoeksalonne

3. Skincare Collection Aloe Vera and Omegas 3 & 6 Day Cream (R65). By Clicks