Daar is niks lekkerder as om ’n nuwe velsorgproduk op die proef te stel nie. Afgesien van die mooi verpakking en die nuwe formule, stem ons vel nie noodwendig altyd saam nie.

Om die perfekte produkte vir jóú veltipe te vind, is ’n kuns op sy eie. Boonop neem dit so paar weke voordat jou vel daarop reageer en eers dan sal jy kan oordeel of jy die regte keuse gemaak het.

Young friends doing make-up together while looking
FOTO Instagram / Allure

1. Knoppies

Hoe so?

As jy oplet dat jou vel se tekstuur onegalig met effense knoppies is, gebruik jy moontlik velsorgprodukte wat te swaar en ryk vir jou vel is. Dit beteken jou vel is geïrriteerd en daar is moontlike ontsteking.  

Oplossing:

Kyk of jou velsorgprodukte aktiewe bestanddele bevat, dit kan daartoe bydra. Probeer ook om ryker rome met ’n velsorgproduk wat ’n jeltekstuur het, te vervang.

2. Olierigheid

Hoe so?

As jou veltipe nie olierig is nie en jy sukkel nou met olierigheid, speel jou gekose velsorgprodukte moontlik ’n bydraende rol. Sekere produkte stroop die natuurlike olies van jou vel se lipiedlaag wat as beskermer dien om vog in jou vel behoue te laat bly. Dit veroorsaak dat jou vel te veel olie vervaardig om die onverwagse droogheid teen te werk.

Oplossing:

Kyk watter van jou velsorgprodukte is ryk aan olie en vervang dit met produkte wat ryk aan hialuronsuur is. Dit sal jou vel voed sonder om onnodige olies in te span.

3. Droogheid

Hoe so?

As jy jou vel te veel afskilfer of gereeld ’n gesigskrop inspan, kan jou vel droog en styf voel. Dehidrasie kan lei tot ’n vel wat ook olierig is, omdat jou vel meer olie vervaardig in reaksie op erge dehidrasie. 

Oplossing:

Kontroleer watter bestanddele jou gunsteling velsorgprodukte alles bevat. As daar te veel aktiewe bestanddele soos salisielsuur, alfahidroksisuur of retinol in ’n produk is, sal dit jou vel uitdroog. ’n Produk wat slegs een suur bevat, is voldoende.

4. Veluitslag

Hoe so?

’n Allergiese reaksie veroorsaak telke male ’n veluitslag. Bestanddele in produkte wat ’n heerlike reuk of mooi kleur skep, is gewoonlik die probleem. Preserveermiddels kan ook ’n allergiese reaksie veroorsaak. 

Oplossing:

Besoek jou dermatoloog om vas te stel waarvoor jy allergies is of gebruik anti-allergiese alternatiewe sodat die inflammasie kan begin afneem.

Bronne: www.insider.com, www.glamour.com