Winkelrakke is deesdae vol velsorgprodukte wat hialuronsuur, oftewel HA, bevat. Velsorgkenners is gaande daaroor, maar tog is baie van ons nog nie oortuig van die voordele nie. Die SARIE-skoonheidspan het gaan uitvind hoekom jy produkte met hialuronsuur in jou velsorgroetine móét insluit.

Wat is hialuronsuur?

Hialuronsuur kom natuurlik in jou liggaam voor en jou velselle vervaardig dit self. Dit trek vog soos ’n magneet aan, wat help om jou vel gehidreer, soepel en plomp te hou. HA funksioneer nie soos ander sure wat die vel afskilfer nie, maar werk kliphard om die korrekte vogbalans te behou.

Watter voordele hou HA vir my vel in?

1. Dit hou jou vel gehidreerd, wat vir ’n gloeiende gelaat sorg.

2. Omdat jou vel gehidreer is, lyk plooie en fyn lyntjies sagter.

3. As antioksidant help dit om jou vel teen vrye radikale en ander skadelike faktore te beskerm, berig Elle aanlyn.

4. Dit help die genesing van wonde en die herstel van beskadigde weefsel aan deur inflammasie in die liggaam te beheer. 

Het jy geweet?

Ons liggame bevat gemiddeld 15g hialuronsuur.

Verskillende HA-produkte:

Serum of room

’n Serum of room met hialuronsuur vorm ’n laag op jou vel wat na jou vel se dermislaag deurdring. Dit help elastisiteit en hidrasie aan.

Aanvulling

Vul jou HA-vlakke van binne aan om die kollageen in jou liggaam te beskerm. Só bly jou vel soepel en plooie lyk minder sigbaar.

Probeer die produkte:

Nivea Hyaluron Cellular Filler + Firming Anti-Age Serum (R309)

Eucerin Anti-Age Hyaluron Filler Day Cream (R390)

Vichy Mineral 89 Fortifying and Plumping Daily Booster (R304)

Skin Republic Hyaloronic Acid + Collagen Face Mask Sheet (R39)

Institut Esthederm Intensive Hyaluronic Serum (R919)

 

Bronne: www.elle.comwww.healthline.com