Jy het jeug en tyd aan jou kant. Met net 'n BB-room, maskara en gekleurde lipbalsem kan jy soos 'n Hollywood-ster lyk. Maar jou jeugdige gelaat gaan ongelukkig nie vanself behoue bly nie.

In jou 20's begin die uurglas reeds leegloop, fyn plooitjies begin vorm en 'n sonvlek of twee kan verskyn. Daarom moet jy velsorgprodukte begin gebruik wat geformuleer is om jou vel langer gesond en jonk te hou.

In hierdie stadium word jou vel se selle nog teen 'n vinnige tempo vernuwe, die bloedsirkulasie na jou vel is goed, jou kollageenproduksie op dreef. Dis hoekom jy reeds in jou 20's voorkomend moet optree.

FOTO: Getty

Wat is die één produk wat in jou skoonheidstas hoort?

'n Vitamien C-serum. Dis geskik vir die meeste veltipes en mans sowel as vroue kan dit gebruik. Net iemand met volwasse aknee moet pasop vir dié serum, dis ongelukkig te ryk vir jou vel.

Onthou ook vitamien C is pH-sensitief. As jy dus jou vel met 'n produk afskilfer wat sure bevat (melksuur of salisielsuur), wag eers totdat dit goed absorbeer voordat jy 'n produk met vitamien C aanwend.

FOTO: Getty

Kyk watter voordele hou vitamien C vir jou vel in:

1.  Bevorder die produksie van kollageen

Fyn lyntjies en plooie is iets wat elke vrou probeer voorkom. 'n Vitamien C-serum is hoogs gekonsentreer en bevat antioksidante wat kollageenproduksie aanhelp, wat weer help om vroeë tekens van veroudering te voorkom.

2. Verminder donker kringe onder jou oë

Vitamien C help om jou velkleur meer egalig te laat lyk en kan selfs donker kringe onder jou oë verminder.

3. Beskerm jou vel teen sonskade

Dit help om jou vel teen UVA- en UVB-sonstrale te beskerm. Omdat vitamien C 'n antioksidant is, versterk dit jou vel om sonskade makliker af te weer.

4. Help om jou vel bevog te hou

As jy met 'n droë of gedehidreerde vel sukkel, benodig jy beslis vitamien C. 'n Hoë konsentrasie van vitamien C is ideaal om jou vel bevog te hou.

5. Voorkom verkleuring en pigmentasie

Vitamien C help om rooiheid en enige vorm van verkleuring te voorkom. Jou velkleur lyk dan meer egalig.

6. Help genesing aan

Vitamien C help om jou vel se natuurlike herstelprosesse te versnel. Wend dit op jou vel aan om snye en akneemerke vinniger te laat genees.

Hoe gebruik jy 'n vitamien C-serum?

Wend die serum een tot twee keer per dag ná jou verfrisser aan. Gebruik net 'n klein hoeveelheid aangesien dit hoogs gekonsentreer is. Gee die serum kans om behoorlik in te trek.

Het jy geweet?

Aangesien vitamien C 'n antioksidant is, het dit 'n beperkte rakleeftyd. Die molekules oksideer sodra dit aan lig, hitte en lug blootgestel word. Indien die serum van kleur verander en geel vertoon, het die produk verslaan en sal dit minder effektief wees. Bêre jou serum op 'n koel, donker, droë plek. Wees ook op die uitkyk vir formules wat nie water bevat nie of spesifiek geformuleer is om die vitamien C langer te laat hou.

Probeer dié produkte:

1. The Body Shop Vitamin C Skin Boost Instant Smoother (R250)

2. Clinique Fresh Pressed Daily Booster (R470)

3. Hey Gorgeous Vitamin C Age Defying Serum (R270), beskikbaar by www.faithful-to-nature.co.za 

4. Dermalogica BioLumin-C Serum (R1 495)

Bronne: www.shape.com, www.artnaturals.com, www.theklog.com