Swartkoppies kan ’n nagmerrie wees in die strewe na ’n foutlose gelaat. Nie net is swartkoppies duidelik sigbaar en moeilik om te verbloem nie, maar dit skep ook ’n oneweredige veltekstuur.

Vir diegene wat daarmee sukkel, is dit ’n voortdurende stryd. Swartkoppies is geneig om keer op keer terug te keer. 

Hoe vorm swartkoppies?

Swartkoppies ontstaan wanneer die opening van ’n haarfollikel verstop raak. Dit is wanneer dooie velselle en sebum ophoop by die opening van die follikel. Dit lyk swart omdat die veloppervlak verkleur weens lugblootstelling. Swartkoppies word grotendeels deur ons hormone beïnvloed, maar verskeie leefstylfaktore kan ook ’n rol speel.

Jou oplossing

Produkte met bestanddele soos retinol, glikolsuur, salisielsuur, bensoïelperoksied en aselaïensuur kan klaarspeel met dié hardnekkige knoppies.

Wees op die uitkyk vir dié velsorgprodukte:

Kleimasker

Dit kan ontslae raak van die dooie velselle en sebum, die vel versag en inflammasie kalmeer.

FOTO Instagram / Allure

Verfrisser met salisielsuur

Dit werk dieper om effektief van onsuiwerhede en vuiligheid ontslae te raak wat haarfollikels kan verstop.

’n Voedende jel

Daar is wonderlike jels wat beide salisielsuur en botaniese ekstrak bevat om die swartkoppies te behandel en terselfdertyd jou vel te voed, kalmeer en soepel te hou.

Afskilferaar met ’n fyn tekstuur

Dit sal jou veltekstuur verbeter en help vir vergrote porieë.

Gesigmasker met kragtige bestanddele

Dit kan wondere verrig ná so ’n paar keer se gebruik. Bestanddele soos retinol, glikolsuur en salisielsuur werk kragtig om hardkoppige velprobleme soos swartkoppies op te los en jou vel te verhelder en egalig te laat.

Vanweë hormoonskommelinge en stres sukkel ek van tyd tot tyd met ’n veluitslag rondom my ken. Ek het Environ se Focus Care Clarity+ Hydroxy Acid Sebu-Clear Masque (R500, by uitsoeksalonne) beproef en is onmiddellik beïndruk. Die masker span onder meer vitamien A en salisielsuur in om puisies in bedwang te hou. Jy wend dit saans aan ’n skoon vel en spoel dit ná 10 minute af. Ná net drie dae se agtereenvolgende gebruik was die uitslag weg en my veltekstuur weer egalig. Dit was nie eens nodig om onderlaag op my ken aan te wend nie. Ek sal dié produk beslis weer koop.

Probeer dié produkte:

Mineraline Black Mud Peel-off Mask (R110). By Dis-Chem

Environ Focus Care Clarity+ Hydroxy Acid Sebu-clear Masque (R500)

SkinCeuticals Blemish + Age Toner (R775). Beskikbaar aanlyn by www.dermastore.co.za

PCA Skin Acne Gel (R980). Beskikbaar aanlyn by www.dermastore.co.za

Bronne: www.newbeauty.com, www.healthline.com