Ongewenste hare, hetsy op ons bolip, bikinilyn of onder ons arms, bly ’n voortdurende stryd. As jy ’n aanhanger van waks- of laserbehandelings is, het jy ongelukkig in die 21 dae van inperking baie minder opsies as dit by jou persoonlike versorging kom.

FOTO Instagram / Melinda Bam

Die SARIE-skoonheidspan het met Yolandè Swanepoel, programhoof van estetiese dermatologie by die Isa Carstens Akademie, oor ’n alternatiewe plan vir ongewenste hare gesels. “Indien jy gereeld waks, is skeer die laaste ding wat jy wil doen. Ongelukkig is die opsies beperk.” 

Yolandè beveel dié 3 opsies aan:

1. ’n Haarverwyderingsroom

2. Haarbleikmiddel vir jou bolip (sodat die haartjies ligter vertoon)

3. Waksstrokies vir kleiner areas (nie vir jou bene nie, dit lyk makliker as wat dit is!)

Wat van skeer?

As jy gereeld vir professionele behandelings gaan om van ongewenste hare ontslae te raak, probeer om ’n skeermes liefs te vermy. “Ek stel voor dat jy skeer tot die minimum beperk en vermy tensy dit regtig nodig is,” sê Yolandè.

Lees meer hier.

Cropped shot of an unrecognizable woman shaving he
FOTO Getty Images / Gallo Images

Voor- en nasorgwenke:

1. Haarverwyderingsrome

Yolandè waarsku dat haarverwyderingsrome ’n chemiese samestelling het, daarom kan jy moontlik ’n allergiese reaksie hê. “Toets eers die room op jou vel ’n dag voor aanwending.”

Volg dan dié stappe:

  • Maak seker die area is mooi skoon en droog voor aanwending.
  • Wend ’n lagie op die gekose area wat al die hare bedek.
  • Volg die aanwysings op die buisie noukeurig en moenie die tyd verleng wat die room op die vel moet bly nie.
  • Verwyder volgens aanwysings en spoel met louwarm water af.

Lees meer hier.

2. Haarbleikmiddel

Volg eweneens die aanwysings noukeurig, veral die hoeveelhede wat gemeng moet word, sê Yolandè. “Toets dit ook so ’n dag voor die tyd om seker te maak dat jy nie allergies vir die bestanddele in die bleikmiddel is nie.”

Onthou ook om nooit die aanbevole tyd wat die produk in aanraking met jou vel is, te oorskry nie.

3. Waksstrokies

  • Maak seker dat jou vel skoon is en dat daar geen olierigheid op jou veloppervlak is nie.
  • Druk met jou hand die strokie ferm op jou vel vas sodat dit deeglik kleef.
  • Ondersteun die vel langsaan die area voor jy die strokie verwyder.
  • Trek die strokie in die teenoorgestelde rigting as jou haargroei af.
  • Moet dit nie direk opwaarts aftrek nie, dit sal die haartjies afbreek eerder as uittrek.
  • Moenie dieselfde area herhaaldelik waks nie, dit veroorsaak velsensitiwiteit en die vel kan beskadig word.
  • Gebruik ’n goeie bevogtigende room of olie as jy klaar gewaks het. Dit sal ook help om enige oorblywende kleefmiddel te verwyder.

Lees meer hier.

ONTHOU
  • Vermy enige velsorgprodukte met parfuum vir minstens 12 uur nadat jy enige van drie bogenoemde metodes gebruik het. 
  • Vermy ook direkte sonblootstelling vir minstens 24 uur aangesien die vel meer sensitief kan wees.
  • Indien jy enigsins produkte of medikasie met vitamien A gebruik, vermy al drie bogenoemde metodes.