Ons spandeer daagliks ure voor elektroniese skerms. Skadelike blou lig waarvan ons nou ál meer hoor, is waarlik oral: dink maar aan jou selfoon, rekenaar, skootrekenaar, televisie en Kindle.

Weens verskeie faktore soos byvoorbeeld die Covid-19 pandemie, het ons lewe na ’n meer binnenshuise bestaan verskuif en daarmee saam spandeer ons meer ure voor elektroniese skerms vir beide werk en ontspanning. 

FOTO Unsplash / Andrew Neel

Ons begryp die gevare rondom skadelike UV-strale vir ons vel - dat dit erge velveroudering en selfs velkanker kan veroorsaak. Maar as dit by ons algemene kennis van blou ligte kom, skiet ons kort.

Ons het met Inge Ferreira, gekwalifiseerde somatoloog, lektrise en akademiese program koördineerder by die Isa Carstens Akademie gesels oor die gevare van blou lig-blootstelling.

Wat is blou lig?

Ligstrale bestaan uit ’n spektrum van verskillende kleure. Blou lig is deel van die sigbare ligspektrum, voeg Inge by. Elektroniese toestelle straal hoofsaaklik blou lig uit wat ’n negatiewe impak op ons vel, slaap en selfs bui kan hê.

Die New York Times berig aanlyn dat in teenstelling met die son se UV-strale, kan ons wel blou lig tot ’n sekere mate “sien”. Dit is wel eerder sigbaar as die helder, wit lig afkomstig van ons elektroniese skerms. En dis ook baie nader aan ons gesig as die son se UV-strale. “Blou lig beskadig jou retina en verminder jou uitskeiding van melanien, wat jou slaappatroon en sirkadiese ritme kan versteur,” berig die aanlyn-artikel. 

En onthou, hoe nader jy aan die toestel is (dink maar aan jou selfoon), hoe meer word jy aan blou lig blootgestel.

FOTO Unsplash / Guilherme Stecanella

Hoe beskadig dit my vel?

Blou lig penetreer maklik tot diep binne ons vel wat dan vrye radikale veroorsaak en grotendeels ons vel se kollageen beskadig. Verder kan dit tot verkleuring, hiperpigmentasie en inflammasie lei en boonop ons velstruktuur negatief beïnvloed.

“Oormatige blootstelling aan blou lig, stimuleer ’n oksidasie-effek in die vel.  Gevolglik vind daar ’n oorvervaardiging van die MMP-ensieme plaas.  Onder normale omstandighede verteer dit beskadigde proteïenmolekules (kollageen en elastien) wat dehidrasie, ’n verlies van elastisiteit, asook die vel se ondersteuningsraamwerk veroorsaak.  Blou lig het ook ’n direkte negatiewe impak op slaap. Dus is daar ’n afname in die vel se herstelproses wat gedurende die slaapsiklus sou plaasvind,” sê Inge.

Watter sigbare velskade veroorsaak dit?

“Die skade is gelykstaande aan sonskade. Dit lei tot vroeë velveroudering wat lyk soos oneweredige pigmentasie en rooiheid, verlies van digtheid in die vel en ’n onelastiese voorkoms met plooie,” verduidelik Inge.

FOTO Unsplash / Tong Chen

Voorkoming:

1. Probeer so ver moontlik tyd voor skerms beperk, lees byvoorbeeld eerder ’n boek vir ontspanning eerder as om televisie te kyk.

2. Beperk die intensiteit van blou lig deur op jou elektroniese toestel die helderheid te verlaag. Soek vir bewoording soos “brightness” by die verstellings. Wees ook op die uitkyk vir ’n nagverstelling op jou toestelle wat warmer, geel lig ten toon stel. 

3. Wend daagliks sonskerm met ysteroksied aan, navorsing wys dat ysteroksied teen sigbare lig soos blou lig beskerm. 

4. Vul jou velsorgroetiene met ’n serum en masker aan met aktiewe bestanddele wat moeiteloos dieper in die vel in penetreer, sê Inge.

5. Vitamien C en E serum help om vrye radikale teen te werk.

6. Dra ’n bril met ’n beskermende laag wat blou lig blokkeer wanneer jy voor ’n skerm sit. 

7. Kies ’n gebalanseerde dieët propvol water en antioksidante, asook aanvullings, die vel moet van binne én buite gevoed word, maan Inge.

“In ons tegnologies gedrewe samelewing is dit belangrik om nie net reaktiewe behandelinge te bied wat huidige skade verbeter nie, maar ook voorkomende behandelings en maatreëls wat toekomstige skade kan teenstaan. Dit is noodsaaklik dat terapeute asook kliënte as deel van hul langtermyn plan vir holistiese welstand, dit verstaan en aanspreek,” sê Inge.

Bronne: www.nytimes.com, www.paulaschoice.com, www.vogue.co.uk