Die velsorgbehandeling genaamd microneedling is tans ’n gunsteling onder vroue én mans. Ons het gaan uitvind wat dié behandeling alles behels en hoekom almal daaroor gons.

Hoe werk dit?

Tydens ’n microneedling-behandeling word ’n toestel met fyn naaldjies oor jou vel beweeg. Die mikronaalde maak klein gaatjies in jou vel en stimuleer jou vel só om meer kollageen en elastien te vervaardig, sê Sonette Donker, velsorgkenner en eienaar van die velsorgkliniek Skin ID in Johannesburg. Mettertyd lyk jou vel jonger, gladder en plooie minder sigbaar. Die behandeling kan selfs littekens ligter maak.

Wat gebeur tydens die behandeling?

Die terapeut wend sowat tien minute vooraf eers ’n verdowingsroom op jou gesig aan. Daarna word ’n serum aangeverf voordat die terapeut die toestel oor jou vel beweeg. Ná die tyd kan jou vel vir so twee dae ’n bietjie rooi wees. Een behandeling duur tussen 45 minute en ’n uur. Aanvanklik is vier tot ses behandelings ’n maand uitmekaar nodig en daarna een so elke drie maande.

Hoekom is dit gewild?

Die grootste aantrekkingskrag vir vroue is dat dit plooie minder sigbaar maak en pigmentasie en akneemerke verlig, sê Sonette. Mans is veral mal oor die resultate wat behaal word om groot porieë kleiner te laat vertoon en diep lyne te versag.

Wees versigtig!

Microneedling in verkeerde hande is gevaarlik. As dit verkeerd of te gereeld gedoen word, kan dit jou vel se struktuur afbreek en meer probleme as oplossings veroorsaak, sê Sonette. Besoek dus ’n goeie velsorgterapeut.