Al gehoor van milia? Yolandé Swanepoel, programhoof van estetiese dermatologie by die Isa Carstens Akademie, verduidelik milia is klein, harde wit knoppies wat net onder die veloppervlak voorkom en moeilik is om te verwyder. "Dit is algemeen by pasgebore babas, maar kinders en volwassenes kan ook sukkel daarmee." Dit kom gewoonlik op die neus, wange, ken en veral onder die oë voor.

Hoe ontstaan dit?

Volgens Yolandé is daar baie faktore, maar dis hoofsaaklik weens die opbou van dooie selletjies wat onder die veloppervlak vasgevang raak en dan 'n klein keratien-gevulde sist vorm. 

"Dehidrasie kan nog 'n oorsaak wees. Milia kan spontaan ontwikkel as gevolg van dehidrasie van die buitenste vellae en die vel se onvermoë om vinnig genoeg van dooie selletjies ontslae te raak."

Maak seker jy gebruik die regte oogprodukte, sê sy. "Die vel rondom jou oë is baie meer delikaat, dus moet gespesialiseerde produkte met die regte molekulêre struktuur gebruik word om effektief te kan penetreer."

Milia vorm soms ná gevorderde gesigsbehandelings soos laser en chemiese afskilfering, wat tydelike dehidrasie kan veroorsaak, volgens Yolandé. "Jou leefstyl kan ook daartoe bydra, veral ongereelde reiniging, rook en blootstelling aan eksterne faktore soos wind en UV-strale."

FOTO Instagram

Hoe word milia behandel?

"In die meeste gevalle verdwyn milia vanself of beweeg na die veloppervlak en kom vanself uit. Indien dit jou pla, raadpleeg jou somatoloog vir behandeling," stel Yolandé voor. 

Daar is een belangrike reël wat jy moet volg: "Moet nooit milia probeer uitdruk nie. Jy sal meer skade aan die vel veroorsaak en tien teen een nie die milia verwyder kry nie. Milia het geen opening na die oppervlak nie en kan dus nie soos 'n swartkoppie uitgedruk word nie.

"Jou somatoloog sal 'n klein snytjie in die oppervlak van die vel maak om die harde balletjie maklik uit die vel gelig te kan kry. Dit is 'n vinnige en redelik pynlose prosedure en verseker minimale skade aan die vel."

Voorkoming:

  • Gereelde reiniging van die vel. Moet nooit met grimering aan gaan slaap nie.
  • Goeie en gereelde afskilfering van die vel. Dit kan óf met 'n afskilferaar gedoen word óf deur produkte te gebruik wat die afskilfering van die vel aanhelp, soos alfahidroksisure en retinol.
  • Vermy swaar oliegebaseerde produkte. Raadpleeg jou somatoloog vir raad.
  • Pas jou leefstyl aan. Eet gebalanseerd en vermy eksterne faktore wat die vel kan dehidreer, soos alkohol, rook, wind en UV-blootstelling.

SARIE Voorbladgesig in trotse samewerking met Jimmy Choo ParfuumsINOAR, Kalahari en Isa Carstens Akademie