Voor Maart-maand het baie van ons nog nooit van die woord “lockdown” eens gehoor nie. Nou is ons al moedeloos van hierdie nimmereindigende stryd teen die Covid-19-virus en die streng regulasies wat met elke amptelike vlak van inperking gepaardgaan. 

Sedert die amptelike inperking, is baie van ons bevoorreg om van die huis af te kan werk en steeds ’n inkomste te kan verdien. Ons grimering kry sowaar ’n blaaskans, want hoekom jou gelaat eksieperfeksie inkleur as jy nie die huis gaan verlaat nie?

Daarom is hierdie vreemde tyd die ideale geleentheid om jou vel te laat rus. Teen dié tyd is dit te verwagte dat jou vel behoorlik sal straal en op sy beste lyk. Maar moenie verbaas wees as jou vel nou juis die teendeel bewys nie. The Telegraph het hierdie tammeletjie as die “lockdown face” gedoop. 

Dis as gevolg van stresfaktore en isolasie wat hormoonskommelinge veroorsaak en tot velkwale soos pusies, aknee, ’n vaal gelaat en meer prominente fronslyne kan bydra.

Wees op die uitkyk vir dié 5 waarskuwingstekens:

1. Stresverwante veluitslag

Al sukkel jy selde met puisies of aknee, kan stres vinnig daartoe lei.

Jou oplossing:

Probeer om velsorgprodukte met niasienamied te gebruik wat oortollige olierigheid absorbeer, merke help verlig en jou vel sal kalmeer. Onthou om nie onnodig aan jou vel te vat en te karring nie, dit versprei bakterieë wat nog meer moeilikheid kan veroorsaak.

Laai toepassings af wat help met ontspannende oefeninge soos asemhaling, joga of meditasie sodat jy stres beter kan hanteer. 

FOTO Instagram / Allure

2. Verstopte porieë

Aangesien ons nou minder grimering dra, is ons geneig om deeglike reiniging af te skeep. Dit veroorsaak verstopte porieë as gevolg van oortollige vuilheid en dooie velselle wat op ons veloppervlak bly. Dr. Ian Webster, spesialis-dermatoloog van Somerset-Wes en medestigter van die aanlyn velsorgwinkel Dermastore beklemtoon dat “dis ewe belangrik om voort te gaan met jou gewone velsorgroetine, al dra jy nie grimering nie.” 

Jou oplossing:

Rening soggens en saans en moenie vergeet om gereeld jou vel af te skilfer nie.

3. Fronslyne

As ons te veel stres, kan dit lyk asof ons fronslyne nog meer prominent as gewoonlik vertoon. Boonop dra lang ure voor die rekenaarskerm ook daartoe by. 

Jou oplossing:

Span retinol, ’n suiwer vorm van vitamien A in om effektief velveroudering teen te werk. Stel jou vel stelselmatig aan dié kragtige bestanddeel voor deur ’n serum of room met ’n lae konsentrasie so twee tot drie keer ’n week saans aan te wend. 

Fokus daarop om nie konstant te frons nie en jou gesig te ontspan. 

4. Sakkies onder jou oë

Sodra jou slaappatroon weens stres versteur word, kan dit tot ’n gedehidreerde vel en sakke onder jou oë bydra. 

Jou oplossing:

Probeer om ten minste sewe tot nege uur saans te slaap en drink genoeg water. Skakel elektroniese toestelle af sodra jy in die bed klim.

Oogrome met alfahidroksisure kan ook help of los twee teelepels in die yskas en hou dit op die sakkies om dit te help kalmeer.

FOTO Instagram / Allure