Gereelde chemiese afskilferingsbehandelings (peels) hou vele voordele vir jou vel in. Dit takel veral pigmentasie, aknee en fyn lyntjies en verwyder ook dooie velselle sodat jou vel weer mooi stralend lyk. Tydens die behandeling word ’n produk met ’n hoë konsentrasie van sure gebruik om die boonste lae van jou vel te verwyder. Jou vel lyk dus onmiddellik gladder en helderder.

SARIE se skoonheidskrywer, Monica Pienaar, het onlangs só ’n behandeling vir knoppies en verstopte porieë getoets.

"Ek het onlangs die plaaslike velsorghuis Optiphi se nuwe LHA Peel probeer. Die behandeling gebruik lipohidroksisuur, ’n sagter weergawe van salisielsuur. Dit dring die vel stadiger binne, wat sorg vir ’n afskilfering met ’n langduriger effek. Dis uitstekend as jy sukkel met volwasse aknee omdat dit tot binne-in verstopte porieë kom.

Die terapeut het begin deur my vel te reinig. ’n Serum is toe in my vel ingemasseer om sensitiwiteit te voorkom. Daarna het die terapeut die suur oor my hele gesig geverf en ná vyf minute enige oortollige produk afgeklad met ’n snesie. Dis dus nie nodig om die suur te neutraliseer nie. Sy het ook my porieë goed skoongemaak en daarna die behandeling afgerond met ’n serum en masker om my vel te bevog en kalmeer.

Moenie dié behandeling laat doen as jy nog nooit vantevore ’n chemiese-afskilferingsbehandeling gehad het nie. Hoewel die suur sagter op jou vel is, kan jou vel vir sowat ’n uur ná die behandeling baie erg brand soos wat dit dieper in jou vel in penetreer. Dis belangrik om dié branderigheid te verduur (en nie jou gesig te was nie), anders gaan die afskilfering nie so doeltreffend wees nie. Gelukkig het jou vel geen hersteltyd nodig nie. Sodra jou vel kalmeer is dit stralend sonder enige rooiheid of sigbare afskilfering. Ek kon onmiddellik ’n verbetering aan my veltekstuur en die voorkoms van my porieë sien, en daar was nie ’n knoppie in sig nie."

FOTO: Phyllis Green

Die Optiphi LHA Peel (R650) is by Lash & Brow Bar in Johannesburg laat doen. Die behandeling duur 30 minute en is beskikbaar by uitsoeksalonne.