Die vakansieseisoen wink en jy wil op jou beste lyk. SARIE se skoonheidsredakteur, Monica van der Walt, het dié gewilde behandeling vir somer op die proef gestel. 

FOTO: Phyllis Green

Die estetiese salongroep The Laser Beautique het onlangs ’n reeks interessante behandelings genaamd FaceFit bekend gestel. Die behandelings, wat wissel van 15 minute tot ’n uur, is ontwikkel om jou gesigspiere te definieer en verferm deur ’n kombinasie van masseringstegnieke, vingerdrukterapie en tegnologieë soos LED, infrarooi en radiofrekwensie te gebruik.

Ek het die FaceFit Lunch Time Glow-behandeling ontvang. ’n Suig-toestel is liggies oor my hele gesig beweeg om bloedsirkulasie aan te wakker, gevolg deur ’n gesigmassering. Die terapeut het veral gefokus op my voorkop, bo my wenkbroue en rondom my kakebeen en ken omdat die spiere hier geneig is om styf te wees.

Sy het ook die binnekant van my mond masseer om my wang- en lipspiere te versterk vir ’n plomper en fermer voorkoms.

Laastens is ook ’n LED-masseringstoestel oor my hele gesig gebruik. My vel het behoorlik gegloei ná die tyd en dit wou voorkom asof my gesigkontoere effens meer gedefinieerd is.

Prys: R450 by The Laser Beautique-salonne