Ons almal begeer ’n stralende gesonde vel. Maar as jy nie weet hoe om behoorlik na jou vel te kyk nie, kan sekere van jou velkwessies nooit aangespreek word nie en oor tyd net erger word. Isabel Carstens-Roos, besturende direkteur van die Isa Carstens Akademie wat die land se voorste somatoloë oplei, glo ’n mooi vel laat ’n vrou goed voel en gee haar selfvertroue. "Versorg jou vel, gee dit die voedingstowwe wat dit vra, oefen vir goeie bloedsirkulasie en dit word jou trots. Trots wat ’n glimlag op jou gesig sit en jou inspireer om te droom. Om te lééf."

SARIE-skoonheidsredakteur, Monica Pienaar, het ’n dag by die Isa Carstens Akademie se Pretoria-kampus spandeer:

Monica Pienaar saam met haar terapeut Ellzahn van der Merwe en salonbestuurder Lindie Joubert. FOTO: Michelle Cilliers
"Ek het onlangs die geleentheid gekry om die Isa Carstens Akademie se Wellness Sanctuary-salon by hul Pretoria-kampus te besoek vir ’n velanalise en -behandeling. ’n Spesiale masjien word gebruik om eers jou vel in-diepte te analiseer. Die masjien neem ’n reeks foto’s van jou gesig en gebruik dan dié foto’s om onder meer porie-grootte, lyntjies en plooie, pigmentasie, droogheid, rooiheid en sensitiwiteit op verskillende dele van jou vel te analiseer. Daarna werk die terapeut saam met jou deur die resultate om jou ’n goeie idee van jou vel se algehele gesondheid te gee en spesifieke velbekommernisse uit te lig. Die analise het getoon dat my vel gedehidreerd is, asook pigmentasievlekke geïdentifiseer wat oor tyd donkerder en meer sigbaar kan word. ’n Behandeling met hialuronsuur en vitamien C is aanbeveel om my vel weer te bevog en verhelder. Die terapeut het ook tuissorgprodukte wat help om pigmentasie te verlig voorgestel. My vel was ná die behandeling stralend en die hele ervaring was insiggewend - ek het baie nuwe dinge oor my vel geleer."

FOTO: Michelle Cilliers
FOTO: Michelle Cilliers
FOTO: Michelle Cilliers

* Die Isa Carstens Akademie lei terapeute op wat saam met dermatoloë, dokters en plastiese chirurge werk en presteer. Dié Akademie is ook ’n trotse borg van SARIE Voorbladgesig 2018. Besoek gerus die Isa Carstens Wellness Sanctuaries-salonne in Pretoria en Stellenbosch. Besoek www.isacarstens.co.za