Aknee is iets waarmee baie van ons sukkel. Dit het ’n negatiewe invloed op jou selfbeeld en boonop is akneemerke en -letsels ’n nare gevolg daarvan.

Die oorsake van aknee:

Daar is twee algemene tipes aknee, naamlik inflammatories en nie-inflammatories. Nie-inflammatoriese aknee is gewoonlik swart- en witkoppies. Dit veroorsaak donker of selfs pienk merkies, wat mettertyd vanself sal verdwyn.

Inflammatoriese aknee veroorsaak ’n papulêre of pustulêre uitslag wat maklik prominente letsels tot gevolg kan hê. Dis groter puisies wat veral rondom jou kakebeen, wange en ken voorkom. Dit ontstaan wanneer jou porieë met oortollige olie, dooie selle en bakterieë verstop word. Dit laat die porieë swel, inflammasie ontstaan en die vel se epidermis en selfs dermislaag word beskadig. Die vel om die letsels is effe gelig, wat ’n oneweredige veltekstuur skep.  

Behandel só akneemerke:

Gebruik daagliks sonskerm

Sonblootstelling kan akneemerke nog donkerder laat vertoon en dus sal die merke nog langer neem om beter te lyk. Dra daagliks sonskerm om sonskade te vermy.

Wend vitamien C-serum aan

Shot of an attractive young woman holding up orang
FOTO Getty Images / Gallo Images
Vitamien C help om donkerder merke te verhelder. Dit help ook om pigmentvervaardiging te reguleer en genesing aan te help.

Probeer ’n chemiese afskilfering

’n Ligte chemiese afskilfering bevat alfa- en\of betahidroksisure wat selvernuwing aanhelp. Dooie velselle word afgeskilfer en jou veltekstuur verbeter.

Behandel só letsels:

Dis ’n goeie idee om jou dermatoloog te besoek vir advies en behandeling. Akneeletsels is baie moeiliker om van ontslae te raak en verg meer intense behandeling.

Gaan vir ’n laserbehandeling

Dit kan help om die rooiheid te verminder en kollageen te hermodelleer, wat die letsels beter kan laat vertoon.

Probeer vullers

Dit word ingespuit en help om ingesonke letsels effe te lig en die veltekstuur meer egalig te laat vertoon. Hialuronsuur, vet en silikon word gewoonlike ingespuit.

Chemiese afskilfering

Facial Mask - Beauty Product, Spa, Candle, Moistur
FOTO Getty Images / Gallo Images

Met ’n chemiese afskilferingsbehandeling word ’n produk wat sure bevat vir ’n kort rukkie op jou gesig gesmeer om ’n aantal lae van jou vel te verwyder. Soos wat die behandelings jou vel afskilfer, word die akneeletsels oor tyd “weggeskaaf” en vertoon dit beter. Probeer eers ’n mediumsterk afskilfering wat ’n organiese suur soos trichloorasynsuur bevat. Met ’n dieper behandeling is jou vel vir ’n ruk daarna rooi, geïrriteerd en sensitief en dit gaan afskilfer. Jy kry egter vinniger resultate.

Bronne: www.teenvogue.com, www.myawesomebeauty.com