In Suid-Afrika is velbekommernisse soos pigmentasie baie algemeen. As gevolg van die warm klimaat word ons voortdurend aan die son blootgestel, wat pigmentasie en donker vlekke nóg meer sigbaar maak.

Die SARIE-skoonheidspan het met Helene van Wyk, bemarkingsbestuurder van die Franse velsorgreeks NUXE, oor pigmentasie gesels. Pigmentasie verwys na die kleur van jou vel, sê Helene. “’n Belangrike komponent hiervan is die melanien-inhoud van die vel en hoe aktief die melanosiete, die selle verantwoordelik vir die vervaardiging van melanien, na die boonste laag van die vel beweeg.”

Die oorvervaardiging van pigment, oftewel hiperpigmentasie, is ’n algemene velprobleem. Dit gebeur wanneer melanosiete oorstimuleer word en meer melanien as normaalweg begin vervaardig. Melanosiete lê aan die onderkant van jou vel se epidermis en soos wat die pigment na die veloppervlak beweeg, vorm dit donker vlekke wat al hoe meer sigbaar word.

“Om die probleem aan te spreek moet ons identifiseer met watter tipe pigmentasie ons werk, sodat ons die mees effektiewe behandeling kan bepaal.”  

Sproete

Ja, sproete is óók ’n vorm van hiperpigmentasie. “Hierdie gekonsentreerde areas van melanien word gewoonlik donkerder wanneer die vel aan die son blootgestel word, aangesien dit die vervaardiging van pigment deur geaffekteerde melanosiete stimuleer.” Helene benadruk dat die beste wapen teen die verdonkering van sproete is om daagliks ’n sonskerm te gebruik. 

Melasma

“Dis ’n spesifieke vorm van hiperpigmentasie wat gewoonlik in die middel van die gesig, wange, kakebeen en/of bolip voorkom.” Faktore soos blootstelling aan UV-strale, hormone (as gevolg van die Pil, swangerskap en menopouse) en genetika speel ’n rol.

Ouderdomsvlekke

“Ouderdomsvlekke word nie deur veroudering veroorsaak nie, maar deur sonskade as gevolg van intense blootstelling aan UV-strale. Hierdie vlekke is gewoonlik bruin of grys en is meestal op die gesig, hande, nek en borskas sigbaar.”

Behandeling:

Volgense Helene kan die voorkoms van die meeste tipes hiperpigmentasie deur professionele behandelings verbeter word. “Hoewel behandelings ’n groot verbetering in die voorkoms van hiperpigmentasie kan aanbring, is dit noodsaaklik om ’n velsorgroetine streng te volg wat help om toekomstige skade te voorkom.” 

Maar die goue reël bly voorkoming en die gereelde gebruik van ’n sonskerm! Die gewoonte om elke dag ’n goed-geformuleerde sonskerm te dra, veral in sonnige SA, is die eerste stap om jou vel teen UV-strale te beskerm.

Behandelings soos laser, afskilfering en mikrodermabrasie (’n toestel met ’n effense growwe oppervlak word ingespan om die boonste laag van jou vel liggies af te skuur vir ’n gladde en sagte veltekstuur) sal die voorkoms van hiperpigmentasie aansienlik verbeter. Raadpleeg jou dokter of dermatoloog om seker te maak dat jy die korrekte behandeling kry.

Kyk ook uit vir produkte wat die volgende bestanddele bevat:

  • AHA's (wat in afskilferaars te vind is)
  • Produkte wat vitamien A bevat, soos retinol
  • Askorbiensuur (’n vorm van vitamien C)
  • Soethout-ekstrak (liquorice)
  • Probeer dié produkte:

    NUXE Brightening Whitening Moisturising Emulsion (R665)

    Eucerin Even Pigment Perfector Night Cream (R470)

    Elizabeth Arden Skin Illuminating Brightening Hydragel Cream (R740)

    Bron: www.newbeauty.com