In ’n onderhoud met die Amerikaanse skoonheidstydskrif New Beauty het die 54-jarige supermodel Elle Macpherson erken dat sy twee maal per dag in die son lê. Maar sy lê nie in die son om te verbruin (tan) nie, maar om haar immuunstelsel ’n hupstoot te gee.  

Elle glo die beste manier om jou liggaam se vitamien D-vlakke gesond te hou, is om tyd in die son (’n bron van vitamien D) deur te bring. Sy wend sonskerm aan en lê soggens vir 20 minute in die son en dan weer vir so 10 minute laatmiddag. Elle vertel sy maak haar oë toe en draai haar gesig na die son terwyl sy lê. 

FOTO: Getty

Volgens ’n onlangse aanlyn artikel deur Forbes help sonblootstelling om jou immuunstelsel te versterk en kan dit boonop jou bui verbeter en depressie help voorkom. Dit is omdat sonlig jou liggaam se serotonienvlakke verhoog, wat jou ontspanne en gelukkig laat voel.

Ons vereenselwig sonblootstelling met velkanker en vroeë veroudering. Tog is dit belangrik om matige sonblootstelling te kry. Dis egter noodsaaklik om nie sonskerm te vergeet nie. Jy moet altyd ’n sonskerm met ’n SBF van minstens 30 op jou vel aanwend.

Ons lyf vervaardig vitamien D wanneer dit aan UVB-strale blootgestel word. Jy kan dus ’n vitamien D-tekort ontwikkel as jy te min sonblootstelling kry. Dis goed om jou vel tussen 10:00 en 15:00 aan die son bloot te stel om vitamien D te vervaardig, omdat UVB-strale die sterkste is gedurende dié tyd,” het dr. Marianne Duvenage, ’n dermatoloog van Pretoria, in ’n onderhoud aan SARIE gesê.

Sonskerm vir jou gesig:

1. Kalahari SPF 40 Sun Protection (R320), beskikbaar by uitsoek-salonne of aanlyn by www.kalaharilifestyle.com

2. Nimue Sun-C SPF 40 (R490)

3. Oh Lief Natural Sunscreen Green Rooibos SPF 20 Face (R220), beskikbaar by www.ohlief.com

Sonskerm vir jou lyf:

1. Nivea Sun SPF 50+ Moisturising Sun Spray (R185)

2. Oh Lief Natural Body Sunscreen (R245), beskikbaar by www.ohlief.com 

Bronne: www.forbes.com, www.newbeauty.com

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady EmblemINOARIsa Carstens AcademyKalahari en kykNET.

SARIE Voorbladgesig 2018