Tienerwees is ’n opwindende, maar ook dikwels ’n vreesaanjaende fase danksy talle veranderinge fisies en emosioneel. Jy probeer jouself en die wêreld verstaan: Wie is ek? Wat is my doel? Is ek okay?

Weens puberteit en hormoonskommelinge wat jou velanatomie beïnvloed, is jou tienerjare gewoonlik sinoniem met velprobleme. Zoya Nell, programkoördineerder van somatologie aan die Isa Carstens Akademie, sê tieners sukkel meestal met twee dinge: ’n Olierige, blink vel of ’n rooi vel. “Jou vel kan blink as gevolg van oortollige olie of rooi wees weens die gebruik van verkeerde produkte wat die vel beskadig en nie help nie.”

Maar raadpleeg jy die regte kenners en maak die regte velsorgroetine en velprodukte deel van jou leefwyse, lyk die prentjie heel anders.

Ons eie Nuwe Gesig-wenner Jonadrie van Aardt, ’n matriekleerder van Hoërskool Jan van Riebeeck, deel haar reis met haar vel en wat vir haar werk.

FOTO Willem Botha

“Ek dink elke tiener sukkel met iets as dit by hul vel kom. Dit speel ’n groot rol in ’n tiener se selfbeeld ... dis eintlik so hartseer. Maar somtyds is velprodukte baie duur of jy weet nie lekker wat om te gebruik nie of jy kry nie die beste raad nie.”

Jonadrie het vroeg in haar tienerjare met aknee begin sukkel. As kommersiële model in die bedryf, was dit vir haar baie moeilik en ontmoedigend. 

FOTO Instagram / Jonadrie van Aardt

“As jy net nie gemaklik is in jou eie vel nie, dan voel dit vir jou of jy nie kan presteer nie en jy kan ook nie jouself wees nie. Jy wil net so graag jouself wees en jy wil nie hê dat jou vel vir jou ’n hindernis moet wees nie. Jy moet maar produkte probeer en dis nie te sê dat die duurste produkte die beste vir jou gaan werk nie, dis ook nie te sê dat goedkoper produkte vir jou gaan werk nie. Jy moet konstant wees. Velsorg is vir my só belangrik, dis ’n daaglikse ding.” 

#Ek het ’n kombinasievel

Jonadrie ken haar veltipe en dit het haar gehelp om mooi uit te pluis wat haar vel nodig het.

“Somtyds kan dit baie droog wees en somtyds kan dit baie olierig wees. Ek het geleer dat die olierigheid in die oggend as ek wakker word eintlik goeie olies is. Jy moet eintlik daai olies in jou gesig inmasseer. Elke oggend masseer ek my gesig, daarna sal ek my gesig was.”

#Dié velprodukte werk vir my vel

Jonadrie hou daarvan om ’n oliereiniger te gebruik om oortollige sebum en vuilheid wat tot aknee kan bydra, maklik te verwyder.

“’n Goeie jel-vogroom doen vir my die ding, omdat my vel nou meer neig na die droë kant toe. Dit laat my ongemaklik voel as my veltekstuur vlokkerig is. Dit trek lekker in, hou my vel bevog en kalmeer ’n geïrriteerde vel.”

Om swartkoppies in bedwang te hou, glo sy dat ’n kleimasker die antwoord is. Dit sal help om die vel te versag en inflammasie te kalmeer.

Vir merke en verkleuring, wat as gevolg van aknee vorm, hou Jonadrie daarvan om ’n gesigolie in te span. ’n Olie wat onder meer vitamien E of roosmarynolie bevat werk goed om merke te verlig.

En moenie van sonroom vergeet nie. “Jy moet sonroom opsit, jy gaan nie nou agterkom wat die son aan jou vel doen nie, maar oor ’n paar jaar gaan dit baie sigbaar wees!”

Cetaphil DermaControl Oil Control Foam Wash (R190) By Clicks.
Neutrogena Hydro Boost Gel Cream (R144) By Clicks.
L'Oréal Paris Pure Clay Detox Mask (R160) By Clicks.
Bio-Oil Skincare Oil (R230 vir 200ml)

#Jy het net een vel

“Velsorg is nie net iets wat jy kan los nie. Jy het net een vel. As jy ’n gesonde vel het, dan lyk dit goed. Jy voel goed en as jy kan goed voel in jou eie liggaam dan kan jy net soveel meer dinge doen en bereik. Jy moet elke dag tyd vat en na jou vel omsien. Ek voel goed wanneer my vel gesond is. As mense na jou kyk en jy het ’n gesonde vel, dan skep dit ’n goeie indruk.” 

FOTO Instagram / Jonadrie van Aardt

Ons het ook met ’n mediese estetiese dokter, dr. Mohammed Asmal by Dermology in Sandton, Johannesburg, gepraat oor slim raad en wenke.

Volgens Dr. Asmal vertraag jou vel se selvernuwing soos wat jy ouer word, selvernuwing vind vinniger by tieners plaas wat ’n meer elastiese en sterker vel tot gevolg het. “’n Tienervel het beter herstelvermoë as ’n volwassene se vel. Erge velskade wat deur aknee of dermatitis veroorsaak word herstel vir hulle baie vinniger.”

Wat is die mees algemene velkwale waarmee tieners sukkel?

  • Aknee
  • Velinfeksie
  • Ekseem
  • Dermatitis
  • Follikulitis (inflammasie van haarfollikels)
  • Sonskade
  • Letsels en merke as gevolg van aknee
  • Pigmentasie en donker vlekke
FOTO Instagram / H&M

Wat is die mees algemene foute wat tieners maak wat tot die bogenoemde velkwale kan bydra?

1. Hulle volg geen velsorgroetine nie of die verkeerde velsorgroetine wat nie vir hulle vel gepas is nie.

2. Óf hulle volg ’n velsorgroetine wat te ingewikkeld is en moontlik bestanddele bevat wat hulle vel meer sensitief maak of beskadig.

3. Hulle gebruik nie sonskerm nie.

4. Hulle vel is gedehidreerd en hulle eet te veel verfynde- en geprosesseerde kosse.

5. Hulle peuter te veel aan hulle vel wat net nóg meer trauma en skade veroorsaak.

Dr. Asmal beveel dié produkte aan:

  • Sonskerm
  • ’n Oliereiniger om oortollige sebum en onsuiwerhede wat aknee veroorsaak, te verwyder.
  • ’n Vogroom met ’n jeltekstuur wat maklik kan intrek, nie jou porieë sal verstop nie en jou vel goed bevog.
  • Produkte met retinoësuur vir velkwessies soos aknee.

Dr. Asmal se gunsteling professionele behandelings vir tieners:

  • ’n Chemiese afskilferingsbehandeling wat alfahidroksisure bevat.
  • ’n Microneedling-behandeling
  • Laserbehandeling
  • Ligemissiediode terapie wat onder andere infrarooi-tegnologie inspan.

“’n Foutlose, egalige en gesonde vel is belangrik vir enige tiener se selfvertroue en selfbeeld. Maar om op daardie punt te kom, is nie altyd so eenvoudig nie,” reken Dr. Asmal. “Dis tog wel moontlik as jy die regte raad volg en implementeer. Onthou om nie te krities op jouself te wees nie. Wonderlike resultate verg geduld, noukeurige versorging en om nie te hard op jouself te wees nie.” 

Dr. Mohammend Asmal FOTO Verskaf

Jonadrie pronk landwyd op die handsakgrootte van SARIE se September-uitgawe, en só lyk haar spesiale voorblad!