Die meeste tieners sukkel in een of ander stadium met hul vel en het al te skaam gevoel om hul gesig in die openbaar te wys.

Aknee ... ’n woord wat ons laat sidder. Volgens die gesondheidswebblad Healthline verwys aknee na enige vorm van verstopte porieë weens oortollige sebum (olie), dooie velselle of bakterieë. 

Wat gebeur?

Zoya Nell, programkoördineerder van somatologie aan die Isa Carstens Akademie, sê tieners sukkel meestal met twee dinge: ’n olierige, blink vel of ’n rooi vel. “Jou vel kan blink as gevolg van oortollige olie of rooi wees weens die gebruik van verkeerde produkte wat die vel beskadig en nie help nie.”

Volgens Zoya stimuleer hormone die vel se oliekliere. “Die vel reageer deur middel van die oorvervaardiging van olie, wat lei tot ’n olieglans op die vel. Omdat die olie meer word, skilfer die vel ook stadiger af. Die uiteinde is onderliggende verstopping wat kan omsit in puisies en aknee.”

Probeer om nie moed te verloor nie, dit sal beter raak soos wat jou hormoonskommelinge bedaar en jy ’n goeie velsorgroetine volg.

FOTO Unsplash / Matheus Ferrero

Tipes aknee:

Daar is twee algemene soorte aknee, naamlik inflammatories en nie-inflammatories. Nie-inflammatoriese aknee is gewoonlik swart- en witkoppies. Dit veroorsaak donker of selfs pienk merkies, wat mettertyd vanself verdwyn.

Inflammatoriese aknee veroorsaak ’n papulêre of pustulêre uitslag, wat maklik prominente letsels tot gevolg kan hê. Dis groter puisies wat veral rondom jou kakebeen, op jou wange en ken voorkom. Dit ontstaan wanneer jou porieë met oortollige olie, dooie selle en bakterieë verstop word. Dit laat die porieë swel, inflammasie ontstaan en die vel se epidermis en selfs dermislaag word beskadig. Die vel om die letsels is effe gelig, wat ’n oneweredige veltekstuur skep. 

Voorsorg en nasorg:

“Die beste raad is om elke dag jou vel met ’n gepaste velsorgroetine te behandel en minstens 1-2 keer per week ’n ligte afskilfering te doen. Hidrasie is óók baie belangrik. Wanneer die vel goed gehidreer is, is die vel geneig om gebalanseerd te wees en te reageer.” 

Lees meer hier.

Dís nuut! Is jy 16 tot 18?

Nóg ’n wedstryd: SARIE Nuwe Gesig. Dit is deel van SARIE Voorbladgesig en almal tussen 16 en 18 (let wel, slegs graad 10 tot graad 12) kry die kans om ontdek te word. Die wenner sal op ’n unieke manier op ons September-voorblad aangekondig word.

SKRYF IN VIR SARIE NUWE GESIG:

  • Jy moet tussen 16 en 18 wees en nog nie matriek voltooi het nie (graad 10 tot graad 12) 
  • Jy moet jouself inskryf en nié deur familie of vriende benoem word nie 
  • ’n SA of Namibiese burger wees 
  • Inskrywings sluit 31 Mei om 00:00 
  • Skryf met drie verskillende foto’s op voorbladgesig.sarie.com in
  • Foto’s met digitale filters sal nie oorweeg word nie 
  • Ons wil sien hoe jy woeker met #SARIEnuwegesig op sosiale media. 
  • Die beoordelaars sal dit in aanmerking neem wanneer die Top-10 gekies word
  • Die Top-10 en wenner word op SARIE.com aangewys
  • LW: Administrasiegeld van R100 per inskrywing is betaalbaar

Skryf vir albei wedstryde SLEGS aanlyn in by voorbladgesig.sarie.com vanaf 17 April

SARIE Voorbladgesig en SARIE Nuwe Gesig word trots geborg deur Isa Carstens Akademie