Dis trouseisoen en voornemende bruide is aan die skarrel om alles perfek vir dié baie spesiale dag in hul lewe te kry. Die aanloop tot die groot dag kan baie stresvol wees en sy tol op jou vel eis. Puisies, ’n veluitslag of ’n vaal gelaat wat moeg en afgerem lyk, is die laaste ding waaroor jy nou wil bekommer!

FOTO: Instagram/@kikitography

Spanning is ongelukkig onvermydelik. Raak dit langdurig, vervaardig jou liggaam ’n oormaat van streshormone soos kortisol, wat tot olierigheid lei en jou porieë kan verstop. Kortisol verminder ook jou vel se vermoë om water te behou, wat dehidrasie en droogheid kan veroorsaak.

FOTO: Instagram/@thebraveryca

So hoe gemaak wanneer jou vel allesbehalwe stralend lyk en jou troudag is om die draai? Yolandé Swanepoel, dosent by die Isa Carstens Akademie, gee raad:

1. Vermy enige nuwe produkte in die maand voor jou troue. Aangesien jy heel waarskynlik meer emosioneel en gespanne in dié tyd gaan wees, is jou vel ook meer geneig om anders op nuwe produkte te reageer.

2. Weens spanning voor die troue kan baie bruide skielik ’n puisie of twee kry. Moenie daaraan karring nie. Jy sal die infeksie net verder versprei en dit kan lelike merke laat. Besoek jou terapeut om jou vel korrek te behandel en deeglik te reinig. ’n Hoëfrekwensie-apparaat kan gebruik word in ’n antibakteriële behandeling wat sal help om puisies vinniger te laat genees. Dit keer ook verdere infeksie.

3. Probeer teeboomolie vir tuissorg. Gebruik watte om dit slegs op die puisie wat jy wil behandel, aan te wend. Teeboomolie is anti-inflammatories en antibakterieel. Pasop om dit te oordoen, aangesien dit tot irritasie kan lei.

FOTO: Instagram/@thebraveryca

4. Vermy produkte wat jou vel kan uitdroog, aangesien dit die probleem kan vererger. Gebruik daagliks ’n ligte vogroom en weekliks ’n afskilferingsroom. ’n Goeie vitamien C-serum sal help om jou vel stralender te laat lyk.

5. Indien jy haartjies op jou gesig (soos op jou bolip of in jou wenkbroue) wil laat verwyder, moet jy dit minstens vier of vyf dae voor die groot dag doen, om te verhoed dat daar rooiheid op jou vel is.

6. Vermy aktiewe behandelings die maand voor jou troue. Gaan eerder vir ’n bevogtigende behandeling en kombineer dit met ’n gesig- en nekmassering wat sommer ook sal help om spanning te verlig.

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Bron: www.bioeffect.co.uk