’n Goeie velsorgroetine help jou vel om op sy heel beste te lyk en te funksioneer, en die winkelrakke is deesdae propvol nuwe en ekstra produkte.

Maar weet jy waarvoor al die produkte gebruik word? Is daar ’n leemte in jou roetine, kan die toevoeging van ’n spesifieke produk ’n groot verskil aan jou vel maak.  

Ons help jou kies watter velsorg-ekstras reg is vir jou. 

1. Verfrisser

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Wat is dit?

Yolandè Swanepoel van die Isa Carstens Akademie verduidelik die oppervlak van jou vel het ’n beskermende lagie wat uit vog en natuurlike olies bestaan, en dié laag is pH-sensitief. “Die pH van jou vel wissel tussen 4.5 en 6, wat normaal is vir optimale gesondheid en balans. Verskeie faktore kan egter die pH van die vel versteur, soos te veel reiniging, water, blootstelling aan die elemente en lugversorging,” sê Yolandè. Dis dié faktore wat jou vel vatbaar vir vrye radikale en bakterieë maak en velprobleme soos droogheid, sensitiwiteit en puisies kan veroorsaak.

Hoekom moet jy dit gebruik?

  • Herstel die pH van jou vel.
  • Voltooi die reinigingsproses deur oorblywende vuiligheid of reiniger van die vel te verwyder.
  • Verbeter die penetrasie van enige produk wat op die vel aangewend word.
  • Bevogtig die vel.
  • Verminder sensitiwiteit.
  • Verfris die vel.
Wenk
Vermy verfrisser wat alkohol bevat, dit kan jou vel uitdroog.

Probeer dié produk:

Eucerin DermatoCLEAN Clarifying Toner (R178)

2. Serum

Wat is dit?

Spesifieke probleme word deur ’n serum getakel, soos ’n onegalige velkleur en -tekstuur en tekens van veroudering. Vandag is dit nie meer ’n luukse nie, maar ’n moet-hê vir jou velsorgroetine.

Hoekom moet jy dit gebruik?

  • Bevat ’n hoër konsentrasie aktiewe bestanddele as vogroom.
  • Werk dieper in jou vel as vogroom.
  • Wend dit aan vóór jou vogroom.
  • Probeer saans ’n serum wat jou vel herstel.
  • Gebruik dit spaarsamig – die verpakking is so ontwerp dat een spuit genoeg is vir jou hele gesig. 
So kies jy die regte serum:

Hialuronsuur: dit help om jou vel vogtig te laat en vogverlies te voorkom.

Vitamien C: om ’n vaal gelaat te verhelder en donker merke te verminder.

Retinol, vitamien B3 en peptiedes: dit help om kollageenvervaardiging te stimuleer.

Probeer dié produk:

Bioderma Hydrabio Sérum (R330)

3. Masker

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Wat is dit?

“Met ’n velsorgproduk soos ’n serum, wat dieper in jou vel werk, sien jy eers ná ’n paar maande werklik ’n verskil, terwyl jou gelaat dadelik beter lyk nadat jy ’n masker aangewend het. Dit is omdat dit op die veloppervlak werk waar dit bv. onmiddellik oortollige olie absorbeer, jou vel bevog of dit afskilfer sodat dit plomper en gladder lyk,” verduidelik Sonette Donker, velsorgkenner en eienaar van die estetiese salon Skin ID in Johannesburg. Baie van die maskers vandag is ook multifunksioneel en behandel meer as een velprobleem op ’n slag. Maskers help om spesifieke velsorgprobleme in ’n kits beter te laat lyk.

Hoekom moet jy dit gebruik?

Jy kan van vaalheid tot donker vlekke, droogheid, fyn lyntjies en olierigheid met ’n gesigmasker in die vorm van ’n room, gesiglappie, jel of aftrekmasker (peel mask) behandel.

  • Ontspanning: maskers met essensiële olies het ’n stimulerende uitwerking wat jou ontspanne laat.
  • Diep reiniging: ’n masker detoks jou vel en werk nóg dieper as jou epidermis.
  • Voorkom verstopte porieë: dit verwyder vuiligheid, oortollige olie en dooie selle wat juis jou porieë laat verstop en tot puisies en velprobleme lei.
  • Glansende gelaat: maskers kan jou vel se bloedsirkulasie stimuleer, wat jou veltoon verbeter en vir ’n glansende gelaat sorg.
Kies ’n masker met van dié bestanddele:

Glikolsuur en retinol: verwyder dooie selle wat jou vel moeg en vaal laat lyk.

Vitamien C: dié antioksidant help om jou vel van vervroegde veroudering en vrye radikale te beskerm. Dit help kollageen produksie aan wat jou vel ferm hou.

Peptiedes: stimuleer kollageen- en hialuronsuur produksie én help om jou vel egalig te laat.

Probeer dié produkte:

Sorbet Cleansing Face Mask (R55)

Avène Soothing Moisture Mask (R250)

The Body Shop Warming Massage Clay Mask (R190)

Bronne: www.nytimes.comwww.bustle.com