Jou vel is gedurig aan die verander. Dit is belangrik om te weet wat presies jou vel tydens watter lewensfase benodig. Jou velsorgroetine kan spesifiek by jou ouderdom aangepas word.

Die SARIE-skoonheidspan het met Yolandè Swanepoel, dosent by die Isa Carstens Akademie, gesels.

Yolandè vertel “dis belangrik om te weet wat jou vel in die verskillende stadiums van jou lewe nodig het sodat jy altyd op jou mooiste kan lyk. As dit by velsorg kom is voorkoming die sleutelwoord. Die biologiese verouderingsproses van die vel is ’n natuurlike proses en kan nie voorkom word nie. Ons kan egter voorsorg tref om seker te maak ons vertraag die natuurlike verouderingsproses so lank as moontlik.”

“Ons vel se behoeftes verander soos wat ons ouer word. Die selle begin stadiger funksioneer, minder kollageen word vervaardig, die natuurlike vetlaag onder die vel verminder en ons vel begin elastisiteit verloor. Die vel lyk dunner, minder plomp en herstel ook stadiger. Die resultaat: lyntjies begin vorm en ons verloor ons jeugdige voorkoms” sê Yolandè.

Yolandè verduidelik wat tydens elke verouderingsfase van jou vel gebeur én hoe om jou velsorgroetine daarvoor aan te pas:

Velsorg in jou 20’s

Op hierdie ouderdom is dit belangrik om op die voorkoming en beskerming van die vel te fokus. Veroudering van die vel op dié ouderdom hou gewoonlik met ’n ongesonde lewensstyl (min slaap, rook en son) verband. Ons sien nog nie veroudering tydens hierdie fase nie, daarom is ons geneig om ons velsorgroetine af te skeep.

FOTO: Getty

· Gebruik ’n reiniger wat grimering effektief verwyder, maar nie te veel van die natuurlike olies van die vel verwyder nie. Die vel benodig olie vir normale funksionering.

· Gebruik ’n ligte vogroom met ’n goeie SPF wat die vogbalans van jou vel balanseer én jou vel teen die son beskerm.  

· Jou vel herstel gedurende die nag, dit is dus belangrik om ’n nagroom te begin gebruik. Kies een wat goeie antioksidante soos vitamien C of druiwepit-ekstrak bevat om die effek van vry-radikale teen te werk.

· Begin ’n ligte oogroom gebruik. ’n Oogroom met ’n jel-basis is perfek.

· Omdat die metaboliese prosesse in die vel stadiger raak, gebruik so twee keer ’n week ’n afskilferroom en weekliks ’n goeie voggewende masker.

Velsorg in jou 30’s

Tydens dié fase raak tekens van veroudering soos pigmentasie en sonskade sigbaar. Jou vel het nou meer sorg nodig om die tekens van veroudering teen te werk.

FOTO: Getty

· Gebruik ’n reiniger met ’n ligte afskilferingsfunksie wat inflammasie in die vel beveg. Kies ’n reiniger met ’n melk- of room tekstuur.

· Wend jou oogroom twee maal per dag aan. Vir ’n olierige vel, gebruik ’n jel-basis oogroom.

· Kies ’n dagroom met meer aktiewe bestanddele soos vitamien A, hialuronsuur, resveratrol en vitamien E.

· ’n Nagroom met alpha hydroxy acids (AHA) of retinol werk effektief om die vernuwing van vel aan te help en die tekstuur te verbeter.

· Indien jy met pigmentasie sukkel, kies ’n produk met kojiensuur, vitamien C en glikolsuur.

· Gebruik ’n nekroom aangesien jou nek, soos jou oogarea eerste veroudering begin wys.

· Gebruik weekliks ’n gesigmasker wat fokus op teenveroudering én die herstel van vog en olie van jou vel.

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady Emblem, INOAR, Isa Carstens Akademie, Kalahari en kykNET.