Vrouens begeer ’n vel wat tydloos lyk en nie hul ouderdom verklap nie. Om jou vel stralend, plomp en soepel te kry verg moeite en ’n streng velsorgroetine. Dit is belangrik om voorsorg te tref om sodoende die natuurlike verouderingsproses van jou vel vir so lank as moontlik te vertraag.

Die SARIE-skoonheidspan het met Yolandè Swanepoel, dosent by die Isa Carstens Akademie, gesels.

Yolandè verduidelik wat tydens elke verouderingsfase van jou vel gebeur én hoe om jou velsorgroetine daarvoor aan te pas:

Velsorg in jou 40’s

Jou vel verloor nou sy vermoë om water te behou. Die proses van selvernuwing neem steeds af en lei tot ’n dowwer gelaat én plooie. Jou estrogeen-vlakke begin nou daal en jou vel raak droeër. Jou nek- en bors area begin elastisiteit verloor en tekens van sonskade is sigbaar.

FOTO: Getty

· Begin ’n serum as deel van jou daaglikse velsorgroetine gebruik. Serums is baie meer gekonsentreerd as dag- en nagrome. Serums bevat ’n baie kleiner molekulêre struktuur en dus penetreer aktiewe bestanddele dieper in jou vel in. Jy kan van meer as een serum gebruik maak, een vir gedurende die dag wat antioksidante bevat én een vir in die nag wat retinol en peptiedes bevat.

· Maak seker jou dagroom bevat hialuronsuur en kollageen-opbouende bestanddele soos peptiedes.

· ’n Room wat spesiaal vir die nek- en bors area geformuleer is, is noodsaaklik.

 Velsorg in jou 50’s

Tydens dié dekade is dit belangrik om op bevogtiging en stimulasie van kollageen-produksie te fokus.

FOTO: Getty

· Gebruik produkte met aktiewe bestanddele soos peptiedes, retinol, alpha hydroxy acids (AHA) en aminosure.

· Ryker rome is nou noodsaaklik om seker te maak jou vel bly bevogtig terwyl dit die aktiewe bestanddele inneem.

· Sonskerm moet daagliks aaangewend word. Jou vel is meer sensitief teenoor die son as gevolg van die gebruik van aktiewe bestanddele soos retinol.

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady EmblemINOARIsa Carstens AcademyKalahari en kykNET.

SARIE Voorbladgesig 2018