Vrouens in hul 60’s en 70’s se vel kan steeds stralend, plomp en soepel lyk. Die natuurlike verouderingsproses van jou vel is onvermydelik, maar daar is riglyne wat jy kan volg om die proses te vertraag en jou vel so goed as moontlik te laat lyk.

FOTO: Getty / Gallo Images

Die SARIE-skoonheidspan het met Yolandè Swanepoel, dosent by die Isa Carstens Akademie, gesels.

Yolandè vertel dat “gedurende jou 60’s en 70’s kan dit voel of die veroudering van jou vel onvermybaar is, maar dit beteken nie jy moet oorgee nie. Met die regte velsorgroetine kan jy steeds goed voel én lyk.”

Na die ouderdom van 60 raak jou vel baie droeër en jeukerig. As gevolg van gravitasie, ontwikkel vrouens ouderdomsvlekke en lyntjies raak ’n meer algemene verskynsel. Yolandè sê dat jou vel raak makliker geïrriteerd, herstel stadiger en is geneig om makliker te kneus.

“Aangesien ons algemene gesondheid en medikasie ook sy tol op ons vel eis, is dit nou selfs nog méér belangrik om ’n goeie velsorgroetine te volg. Gaan na ’n goed gekwalifiseerde terapeut om vir jou ’n individuele tuissorg-plan uit te werk wat spesifiek in jou vel se unieke behoeftes sal voorsien” beveel Yolandè aan.

FOTO: Getty / Gallo Images

Yolandè verduidelik wat tydens elke verouderingsfase van jou vel gebeur én hoe om jou velsorgroetine daarvoor aan te pas.

Hier volg ’n paar riglyne:

· Reinig jou vel soggens en saans met ’n romerige reiniger. Vermy seperige reinigers wat die vel kan uitdroog en tot irritasie kan lei.

· Vervang jou lyfseep met ’n sagter wasmiddel wat help om die droogheid van die vel te verlig.

· Moenie in te warm water bad nie, jou vel verloor natuurlike olies en droog uit.

· Beskerm die vel deur die dag met ’n voedende vogroom. Die vel verloor sy vermoë om olie te behou en dit is dus nodig dat jy op ’n daaglikse basis die olie en vog in jou vel terugsit. Dit voorkom verdere uitdroging. Jou vogroom kan ook op die nek- en bors area aangewend word.

· Gebruik ’n romerige lyfroom oor jou hele lyf. Jou vel sal meer gehidreerd wees en dit herstel ook die vel se natuurlike beskerming om te keer dat vog verlore gaan. Vermy sterk geparfumeerde rome, dit kan tot velirritasies lei.

· Aktiewe bestanddele soos vitamien C, vitamien E en koënsiem Q10 is baie goed vir jou vel.

· ’n Goeie sonblok bly ’n belangrike beskermingmeganisme vir jou vel, maar nou selfs meer as ooit, omdat die vel se eie beskermingsmeganismes nie meer so goed funksioneer nie. Jou vel word teen die son beskerm, maar óók teen oormatige uitdroging deur die dag.

· Wanneer jy slaap, is jou vel se herstelproses baie aktief. Dit is baie belangrik om ’n goeie nagroom te gebruik wat met die herstelproses sal help. Gebruik ’n nagroom ryk aan omegas en antioksidante.

· Sluit ’n behandelingsolie in jou velsorgroetine in. Die olie gee ekstra voeding wat veral nou so nodig is en dit keer ook vogverlies. Gebruik ’n olie met ’n molekulêre struktuur wat in die vel in penetreer en nie net op die oppervlak van die vel sit nie.

· Besoek jaarliks jou dermatoloog om jou vel vir velkanker te evalueer. Na die ouderdom van 50 verhoog jou kanse vir velkanker.

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady Emblem, INOAR, Isa Carstens Academy, Kalahari en kykNET.