Sedert Covid-19 as ’n pandemie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie in Maart verklaar is, het 2020 meteens verander en ons forseer om by ’n nuwe “normaal” aan te pas.

’n Voorbeeld hiervan is om in die openbaar ’n gesigmasker te moet dra om verdere verspreiding van die virus teen te werk.

Beide lap- en mediese gesigmaskers kan jou vel nadelig beïnvloed, lui ’n mediaverklaring van die Suid-Afrikaanse velsorgreeks Beaucience.

Hoe so?

Wanneer jy ’n masker dra, kan jou asemhaling nie “ontsnap” nie en só verhoog die temperatuur en humiditeit (sweet en olie) in die spasie tussen jou mond, neus en die masker.

Volgens Beaucience is dit die ideale omstandighede vir bakterieë om te floreer wat tot ’n veluitslag, puisies of selfs infeksie kan lei. Dan nie eens te praat van die bydraende effek van die olie van jou grimering en velsorgprodukte nie!

Boonop kan die verhoogde temperatuur veroorsaak dat jou vel oortollige sebum vervaardig wat óók puisies of ’n veluitslag tot gevolg kan hê.

Hoe voorkom jy dit?

Dis belangrik om voldoende reiniging, afskilfering en bevogtiging te prioritiseer.

1. Reiniger

Maak seker dat jou reiniger uit natuurlike bestanddele en antioksidante bestaan wat sagkens op jou vel werk. Onthou om beide soggens en saans jou gesig goed te reinig. Reinig óók jou gesig as jy terug by die huis is en die masker afgehaal het.

2. Afskilferaar

Dis noodsaaklik om jou vel af te skilfer om van dooie velselle ontslae te raak. Dooie velselle kan ook aan die binnekant van jou masker vassit en sodoende jou porieë help verstop.

3. Vogroom

Die verhoogde vogtigheid binne jou masker kan jou vel uitdroog, daarom is hidrasie baie belangrik. Wend daagliks ’n vogroom aan om jou vel te bevog en gevoed te hou. Maak seker dat jou vogroom nie te ryk is nie en bestanddele bevat wat maklik kan intrek.

Onthou …

- Gebruik ’n serum met hialuronsuur om jou vel ’n ekstra hupstoot te gee en help om die voginhoud van jou vel te balanseer.

- As jy geneig is om met puisies te sukkel, onthou om nie velprodukte te gebruik wat jou vel uitdroog nie, dit kan inflammasie veroorsaak. Fokus op bevogtiging om jou vel gesond te hou.

- Al dra jy ’n masker wanneer jy die huis verlaat, moet jy steeds sonskerm dra om jou vel teen oormatige sonblootstelling te beskerm.

- As jy oplet dat jou vel begin uitslaan, probeer om vir eers nie grimering te dra nie. Dit sal jou vel kans gee om asem te haal.

Probeer die produkte:

Beaucience Botanical Cleansing Gel (R100) Beskikbaar aanlyn by www.beaucience.co.za en www.takealot.com

SKOON. Retinin Retinal Resurfacing Cream (R356) Beskikbaar aanlyn by www.faithful-to-nature.co.za

esse Cocao Exfoliator (R420) Beskikbaar aanlyn by www.faithful-to-nature.co.za

African Extracts Rooibos Multi-protect Moisturiser SPF30 (R160)