Inperking of nie, tyd staan nie stil nie, of beslis nie vir aktrise Marguerite van Eeden van Vaselinetjie-faam nie. En al het die Covid-19-pandemie die bedryf tot stilstand gedwing, het dié honneurstudent in drama aan die Universiteit Stellenbosch vinnig aangepas. 

Ja, wanneer hierdie vreemde tyd van inperking verby is, sal Marguerite ongetwyfeld ’n lang lys van doendinge kan aftik. “Ek het begin foto’s neem, so dit is flippen lekker. Ek het ’n paar portrette begin neem vir my vriende en couple shoots, uiteindelik wil ek baie graag troues doen. En ek lees weer, ek is só mal oor lees, so ek kan nou lekker lees. Ek lees en dan drink ek tee en ek werk bietjie. Ek en Danie [du Toit van Spoegwolf] het ’n paar goed saam begin doen soos Middernag met Marguerite.”

FOTO Instagram / Marguerite van Eeden

Sy gesels met ander in die bedryf oor hul drome, wense en nagmerries. Die lekkerste, mees insiggewende gesprekke vind juis soms op die vreemdste tye plaas. “Dis basies net ’n show wat ek en Danie en Damiane van Reenen besluit het om te doen. Ons praat met mense om middernag in die kombuis van my klein woonstel, en ons vra vir hulle vrae wat ’n mens nog altyd wou vra.”

FOTO Instagram / Marguerite van Eeden

Marguerite se klasse het skaars vir die akademiese jaar afgeskop, toe die grendeltyd aangekondig is. “2020 het anders uitgedraai. Ek het klas gekry by ongelooflike lektore en toe begin lockdown en corona, so toe moes ons klasse aanlyn gaan. Ek is nogal spyt daaroor, maar ek is dankbaar dat ek hierdie lektore kon leer ken.”

FOTO Instagram / Marguerite van Eeden

Sy probeer dinge eenvoudig hou ... nes 2020 ons alte goed geleer het. “Ek dink hierdie jaar is ’n jaar van less is more vir my. Ek wil fokus op my vriende, hoewel ek dit elke jaar kan doen, maar hierdie jaar is vir my ’n belangrike jaar. Ek dink niks het eintlik verander nie, net om aan te hou groei as ’n mens in geloof, in myself, om my vriende.”

FOTO Verskaf
FOTO Marguerite van Eeden
FOTO Verskaf

Dinsdagaande is maar vervelig sedert die derde seisoen van die kykNET-drama Fynskrif se laaste episode onlangs uitgesaai is. Marguerite was maar 19 toe sy deel van die gewilde reeks geword het. Sy kan nie uitgepraat raak oor dir wonderlike ervaring nie. “Ek is so hartseer dat die reeks verby is ... dit het ’n familie geword. Ek het met Jacques en Tinarie gewerk en ek is ’n ongelooflike groot aanhanger van hulle as akteurs, maar ook as mense. Ek het so baie by hulle geleer en ek dink ek het ook deur ’n interessante tyd in my lewe gegaan toe ek Fynskrif se eerste seisoen begin skiet het. Als was net van die beste gehalte en om deel daarvan te kon wees was stresvol, maar dit was ’n life changing experience.” 

FOTO Instagram / Marguerite van Eeden

Marguerite is ’n natuurlike skoonheid. Sy fokus op wat haar vel en hare nodig het, eerder as ’n vaste skoonheidsroetine. 

Van tyd tot tyd hou sy daarvan om vir ’n afskilferingsbehandeling te gaan. “Partykeer kry ek as gevolg van stres ’n uitslag op my voorkop, maar dan gaan ek Skin Renewal toe en hulle help my om uit te figure wat ek vir my vel moet doen.”

Haar skoonheidsfilosofie of -mantra?

Om jou natuurlike self te wees is vir my die mooiste. Mense wat hulself is, is vir my die beeldskoonste en ek glo wat binne jou aangaan, gaan buite wys. So as jy binne fine is en gesond is en jou hart op ’n goeie plek is, dan gaan jy beautiful wees.

Sodra jy begin fokus op ander goeters as op hoe jy lyk, dan raak mens om een of ander rede die mooiste mens. Gaan lees weer ’n boek en gaan stap in die natuur, dan gaan jy by die huis kom en gorgeous lyk!

FOTO Verskaf

En haar moet-hê-skoonheidsprodukte? 

Ek dra net eintlik een ding. Bobbi Brown se swart Smokey Eye-maskara. Dis so klein buisie, ek is mal daaroor! 

Bobbi Brown Smokey Eye Mascara (R490). Beskikbaar aanlyn by takealot.com

Jou gunsteling-Spoegwolf-liedjie en hoekom?

Dis moeilik om te kies! Ek love “Glenda”, ek hou van “Wandelliedjie”, ek is mal oor “Blou” en ek hou van “Mayday”. Almal! As ek nou moet sê, is my gunsteling “Glenda”. Ek dink daar is ’n universele tema wat meeste verhoudings mee sukkel en kan vereenselwig.

Gunsteling-gereg by Drum?

Ek love die margarita-pizza, dis my gunsteling oor die algemeen!

FOTO Instagram / Drum Stellenbosch