Sy is op haar gelukkigste tuis op Riebeek-Kasteel, ’n plek wat sy haar toevlug noem.

“Oor ons bedryf reeds so wispelturig is, is ’n noodgedwonge aftydjie dikwels jou voorland,” vertel Tinarie. “Ek het my ’n wyle terug voorgeneem om my huis so te probeer maak dat dit ’n veilige spasie is wanneer tye moeiliker is.”

Sy voel ons moet juis nóú met sagtheid en begrip met mekaar omgaan. “My hart breek vir diegene wat ver van hul mense af is, nie ’n veilige hawe of huis het nie, of vir wie die spasie waarin hulle hulself bevind, bedreigend of ongesond is.”

Sy vat elke dag soos dit kom. Die 21 dae van inperking herinner haar aan wat haar oorlede ma, Ansie, sou sê: “Dat dit, ongeag die bitter moeilike omstandighede, amper ’n meevallertjie is in beseringstyd. Ons is almal bewus van die buitengewone en geweldig ernstige situasie, maar ek dink dit is ook ’n geleentheid vir inkeer en om herinner te word dat ons teen ’n geweldige pas lewe. Partykeer is dit miskien goed dat alles net geforseer word om te gaan stilstaan.”

Vir SARIE se Oktober 2018 FOTO Willem Lourens

Sy glo dis elkeen se plig om verantwoordelik op te tree ter wille van jou eie gesondheid. Hou by ’n roetine, want dis net so belangrik vir jou emosionele welstand. “Ek is nie goed met roetine nie, maar noudat my skedule nie ’n verskoning is nie, wil ek kyk of ek met so klein bietjie selfdissipline konstruktief tyd kan spandeer aan oefening en helder denke.”

Op haar lys van doendinge? Sy is dankbaar vir die ekstra tyd. “Ek bring graag tyd op my eie deur en kan myself vreeslik besig hou met eindelose onbenullighede as ek die dag lus is.”

Klere regmaak, swembad skoonmaak, broodbak, nuwe resepte op die proef stel, Playstation speel, lees en natuurlik fliek kyk is op haar lys. “Dan is daar ook altyd werk wat prut in die agterkamers van my kop, maar vir nou hou ek daardie spensdeur nog op ’n skrefie.”

Maar ons moet ook die tyd gebruik om te onthou hoe broos alles is en dink oor wat ons rol daarin is, sê sy. “Spruit hierdie krisistyd dalk uit ons disrespek teenoor diere en die aarde? 

“Tog loop pandemies en oorloë hand aan hand met die mensdom sedert ons ontstaan. Ek is dankbaar dis eersgenoemde, eerder as laasgenoemde. Dis ’n geleentheid vir ons om beter te wees, om die weerloses en blootgesteldes te koester en te beskerm, om opnuut bewus te word van mekaar en watter infrastrukture werklik belangrik is. Om met ’n nuwe sin vir verantwoordelikheid en dankbaarheid te beweeg in en deur ons omgewing en samelewing. Sodat goedheid die oorhand kan kry.

“Dis ’n les dat daar ’n groter wêreld draai wat ons nie altyd kan beheer nie, maar dat ons ’n verskil kan maak waar dit tel.”

FOTO Willem Lourens

Haar vooruitsigte vir 2020

Vanjaar wag ’n nuwe lewensdekade vir Tinarie. Sy word 40, maar dit verander nie haar uitkyk op die lewe nie.

“Die lewe maak homself stukkie vir stukkie aan elkeen bekend en my terugblik word al breër,” verduidelik sy. Sy het meer begrip vir en vrede oor haar verlede, maar óók haar toekoms.

“Alles verander saam met jou soos jy langer rondwoel hier op die planeet en jou vel is jou eerste skerm teen alles buite.” In die vorm van letsels, geboortemerke, sproete en plooie dra ons ons eie stories en herinnerige saam, sê sy. En dis te verstane, met die verloop van tyd sal ons vel ons weerloosheid wys. 

FOTO Willem Lourens

Krag in eenvoud

Tinarie fokus op ’n eenvoudige benadering as dit by die versorging van haar vel kom. “Ek het al baie my velsorg-regime verander soos die geite my beetpak, maar die laaste paar jaar hou ek van ’n eenvoudige en organiese benadering.”

Tinarie se drie-stap-velsorgroetine:

1. Reiniging 

2. Verfrissende gesigsproei

3. Bevogtiging

Sy verkies dit om olies in te span en is mal oor ’n kleimasker af en toe. 

En haar gunsteling-produkte?

Plaaslike velsorgreekse met natuurlike bestanddele, soos:

- Lulu & Marula

- SKOON. Skincare

- The Creamery

FOTO Willem Lourens

Raad aan haarself ...

Dié raad is op die liefdesmeditasie van die Viëtnamese monnik Thich Nhat Hanh gegrond:

- Mag ek leer om na myself te kyk met oë van liefde en begrip

- Mag ek die belofte van vreugde in myself ontdek, aanraak en koester

- Mag ek die oorsprong van woede en waan in myself sien en identifiseer, mag ek weet hoe om die vreugde in myself elke dag te voed

- Mag ek opnuut met mening en vry lewe

- Mag ek sonder verknogtheid wees, maar nooit onverskillig nie ... sodat ek sagkens deur die lewe kan gaan met begrip en deernis vir al die wesens wat dit saam met my probeer doen