Hoekom is soveel vroue bang vir lipstiffie?

Dis dalk ’n goeie ding, want jy moet versigtig oor ’n lipkleur besluit. ’n Te donker skakering kan ’n klein mond nog kleiner en kwaai laat lyk, terwyl ’n natuurlike kleur ’n lip voller laat lyk. Vol lippe kan feitlik enige kleur dra en dis juis hierdie soort lippe wat kan wegkom met bloedrooi. Die ander rede is waarskynlik dat die meeste mans nie van lipstiffie op ’n vrou se lippe hou nie!

Waar begin iemand wat niks weet van grimering nie?

Begin deur wat ek self doen: Slegs ’n potlood binne-in die boonste ooglid reg teen die wimpers, en volg dan met ’n goeie maskara. Die potlood sal die wimpers voller laat lyk. Belê ook in ’n produk wat op jou wange en mond gebruik kan word, soos Bobbi Brown se Pot Rouge in Blushed Rose (R275). Vir hierdie basiese “gesig” het jy nie eens ’n borsel nodig nie, jou vingers is goed genoeg.

As jy soggens nie tyd het nie, wat is die een ding wat jy wel kan doen wat die meeste impak sal maak?

Maskara slegs op die boonste wimpers – en jy word onmiddellik sexy!  

Moet jy aanpassings maak aan jou grimering soos jy ouer word?

Ja, beslis, aangesien die tekstuur van jou vel en selfs die vorm van jou lippe mettertyd verander. Onderlae veral moet met sorg gekies word soos jy ouer word, sodat jou vel nie droog lyk nie. Vermy poeierige onderlae asook oogskadu’s met te veel blinkers in, aangesien dit lyntjies opvallender maak. Gebruik verkieslik roomblossers bo-oor ’n ligte onderlaag. Om te keer dat lipstiffie in die fyn lyntjies om die lippe “bloei”, kan jy ’n lippotlood in dieselfde skakering as jou lipstiffie oor die hele lip onder jou lipstiffie aanwend.

Hoe moet jy jou grimering aanwend as jy ’n bril dra?

Grimering kan effens donkerder wees as jy ’n bril dra, want die lens absorbeer heelwat van die impak van ’n oogskadu.

Wat maak ’n vrou vir jou mooi?

Wat is dit wat ’n vrou mooi maak? Is dit die ronding van haar wangbeen of die sterkte van haar ruggraat? Hoe sy lyk, of hoe sy na die wêreld kyk? Want om mooi te lyk is een ding, maar om mooi te voel is alles!           

IN ALGRIA SE GRIMEERSAKKIE

1. Yardley Retractable Eyepencil in Black (R74,95) “Modelle word skielik sexy met hierdie potlood – dag of nag!”

Bobbi Brown Luminous Foundation

2. Bobbi Brown Luminous Foundation
(R340) “Ek hou van ’n gesonde vel
wat deurskyn en die tekstuur van
dié onderlaag word een met jou
vel.” (Eksklusief by Edgars.)

Dior 5 Couleurs Eyeshadow in 705

3. Dior 5 Couleurs Eyeshadow in 705 (R725) “Hierdie palet herinner aan die kleure van die woestyn en is perfek vir natuurlike ooggrimering.” (Eksklusief by
Edgars.)

La Mer The Mist

4. La Mer The Mist (R650) “Hierdie produk is my geheime wapen! Ek spuit dit op modelle se gesigte voor en ná ek hulle grimeer vir ekstra vog – selfs die geur is terapeuties!” (Eksklusief by Edgars en Stuttafords Sandton.)