IN HAAR 40'S

Anneline trou met die sakeman Peter Bacon en die gesin trek Kaap toe.

Dit was altyd haar droom om in die Kaap te woon. Sy gaan ’n rustiger fase binne.

“Jou kinders verander alles: Hulle word die belangrikste in jou lewe,” sê sy. “Klere en klere koop raak minder belangrik. Net oor skoene sal ek altyd mal bly! Dalk omdat dit so maklik is om te koop: Jy trek dit aan en dit lyk pragtig. Nie soos ’n broek of top nie. Dít vestig jou aandag op jou lyf en daarop is jy immer krities.”

Deesdae is haar gunsteling-skoene, ’n paar cowboy-stewels, nie mode-gebonde nie. Die sagte leer streel die voet en die hakkies is laag, soos Anneline nog altyd haar skoene verkies het. Dít het nóg belangriker geraak toe sy as jong ma agter haar kinders moes aanhol.

Sy onthou: “In my 20’s, ná my tydperk as Mej. Wêreld, het ek in Milaan modelwerk gedoen. Renette was my chaperone. Vooraf het ons Londen se uitverkopings stormgeloop en die mooiste stewels gekoop – platforms met ronde punte. In Milaan kom ons egter agter dis só verlede seisoen. Skielik was skoene met plat hakke en skerp punte in. En daar sit ons met ons klompe! Ons het dit ná net een aand se uitgaan in die vullisdrom gegooi. My hart was swaar, maar daar was geen manier hoe ek dit ooit weer sou dra nie.” In Milaan, mode-mekka van die wêreld, is jy eerder dood as uit die mode!

Anneline begin in haar 40’s die son vermy. In haar 20’s en 30’s móés sy eenvoudig oraloor sonbruin wees. Dit het tyd en toewyding geverg: As jy aan een kant goed gebak het, draai jy om en braai die ander kant. Dit sónder die beskerming van ’n SBF.

“Ek het eendag agtergekom ek word nie meer bruin nie – die sonvlekke op my lyf word net donkerder. Ek mís die son, maar met die jare raak my verdraagsaamheid vir hitte minder.”

Anneline maak ook in dié tyd vrede daarmee dat sy nooit weer ’n 20’s-lyf gaan hê nie. Maar steeds het sy gedink haar bene is te dik, al het baie mense gesê dis haar beste bate. (Haar voete was ook ’n bron van verleentheid. Sy trek haar Tod’s uit en wys slanke voete sonder naelpolitoer, met ’n skewe toon wat haar pla.)

In die 80’s (haar laat 20’s en vroeë 30’s) was dit byna mode om verslankingstablette te drink. Dan word jy hiperaktief van al die stimulante daarin. Jy slaan dalk ’n maaltyd of twee oor, maar iewers maak jy weer daarvoor op. Pille of nie, sy kon nooit met ’n dieet deurdruk nie.

“Maar ek het ’n punt bereik waar ek filosofies oor my gewig is. ’n Vriendin sug nou die dag sy is vet. Ek sê jong, oor tien jaar gaan jy wonder hoekom jy gekla het. Want dan gaan jy waarskynlik nog méér weeg. Dis darem iets wat ek oor die jare geleer het: om dít wat ek nou het, te waardeer.”

Sy&aposs in &aposn rustiger fase van haar leweHaar voorkoms is natuurliker

Jou vel se kollageen en bindweefsel begin nou verswak en vinniger verminder. Lyntjies word ook dieper

“Jou gelaat kan nou bleek of vaal lyk,” sê dr. Suritha Kruger. “En as jy ’n sonaanbidder was in jou 20’s of 30’s, gaan jy die gevolge begin sien.”

 

Velsorgkenner Stephanie Hugo glo goeie teenverouderings- en behandelingsprodukte is nou onmisbaar. “Jou vel se verlies aan kollageen – veral met die naderende menopouse – vra vir ryker rome. Soek produkte wat jou vel se natuurlike selvernuwing en kollageen-produksie kan stimuleer.” Jou vel vorm vóór 40 nog elke 28 dae nuwe selle. Hierna neem dié tempo drasties af.

Sonblok bly ’n moet,” sê Stephanie. “Soek een wat nie mineraalolies en lanolien, wat jou vel kan irriteer, bevat nie.”

Jou grimering moet nou ook help om helderheid in jou gelaat terug te sit. “’n Roomblosser laat jou blosend lyk en gee helderheid sonder om in lyntjies te gaan sit,” sê grimeerkunstenaar Algria.

Wat oogskadu betref, is minder nou meer. “Eksperimenteer met kleure na aan dié van  vyeskil en meng dit met bruine en selfs oker,” wei sy uit. “As jou wimpers uitgedun is, kan jy die binnekant van jou boonste ooglid met ’n swart oogpotlood inkleur om hulle voller te laat lyk.”

Algria meen daar is baie vroue in hul 40’s wat hul grimering stylvol dra: “Uma Thurman is ’n goeie voorbeeld van hoe jy bedags grimering kan aanwend, terwyl die styl-ikoon Sarah Jessica Parker jou grimeervoorkoms vir die aand kan inspireer.”