IN HAAR 50'S

Anneline en haar gesin se woonplek by die Kaapstadse Waterfront is een van die gesogste adresse in die land.

Uit die sitkamer het jy ’n 180°-uitsig oor die hawe. Jy sink tot byna by jou ken in die luukse sitkamerstoele weg. Hulle het hul eie swembad, vertel sy, hier bo in die lug.

Haar hare hang steeds laag teen haar rug af. Dis deesdae ’n bietjie donkerder, om die grys wat plek-plek nesskop te verbloem. ’n Herinnering aan hoe sy in haar jongmeisie-dae met ’n tandeborsel self ligstrepies in haar hare gesit het, laat haar glimlag. As die strepies later geel word, het sy dit met Gentian violet gedokter. Haar hare was daarna ’n asembenemende asblond.

Mits haar hand nie te swaar was nie: “Dan was my kop pers!”

Sy is steeds ’n bekende gesig. Daar is die vrou agter die geldlaai by Pick n Pay wat haar vrolik terg: “Anneline, jy het dik geword!” Of die dokter se ontvangsdame wat haar bel en aan die einde van die gesprek skamerig vra: “Is jy Anneline Kriél?”

“Ek is verbaas dat mense my steeds herken, sonder grimering en met my hare in ’n poniestert. Dis hoe ek meestal rondloop. Ek was nooit lief vir grimering nie. Selfs toe ek oorsee modelwerk gedoen en ’n mens altyd gewonder het: Moet jy na castings toe gaan sónder grimering, sodat die kliënt sien hoe jy natuurlik lyk? Of moet jy grimering aansit en op jou heel beste lyk? Ek het altyd op ’n skoon gesig besluit. En nou is my leefstyl só dat ek dit nie hóéf te dra nie. As ek iets móét aansit, is dit lipstiffie. Onderlaag . . . dit droog my vel uit.

“Daar was ’n tyd toe ek verleë was as mense my sonder grimering op straat herken. Dan het ek verskoning gemaak: ‘Ek lyk nie op my beste nie . . .’

Nie meer nie. Ek probeer nou om die beste te wees wat ek is – vir myself.”

’n Facelift? Liposuiging? Soms sien sy iemand wat ’n ontrimpeling gehad het en dit lyk goed. Dan dink sy: Mmmm, dalk sal ek dit tog eendag doen . . . Maar sy is nét so bang dis ’n flop. Dit kry jy tog ook: Mense wat daarná skoon vreemd lyk.

Botoks is heeltemal uit: “Daar is geen manier dat ek gif in my sal laat spuit nie! Nee wat, ek sal maar probeer om met grasie oud te word.”

Philip, haar gewese man en die pa van haar kinders, is in 2008 oorlede. “Jy word met jou eie sterflikheid gekonfronteer. Die lewe is baie broos, breekbaar.” Prioriteite verander. Rustigheid en gesondheid word belangrik. Sy eet baie vrugte en drink baie water. Sy, Peter en Nelson, hul hond, loop langs die strand of in die park. En elke week belowe sy en Peter: Maandag gaan ons gimnasium toe.

Peter het twee seilbote onder in die hawe. Sy kan sommer hier van die balkon af ’n ogie oor hom hou! sê Anneline en glimlag. Dieselfde glimlag wat drie dekades gelede fotograwe op aandag laat spring het.

Teen dié tyd het diep gevestigde lyntjies ongelukkig reeds gevorm, maar daar ís raad

“Elastisiteit en kollageen verminder steeds en swaartekrag speel ’n groot rol in die vorming van dieper lyntjies en sakkerigheid onder die vel,” verduidelik dr. Suritha Kruger

 

"Foto-veroudering (veroudering weens lig) veroorsaak ook oneweredigheid, bont pigmentasie en vlekke,” sê Suritha.

Jou oliekliere begin nou minder olie vrystel. “Dit begin gewoonlik ná die menopouse en die olie word geleidelik minder. Jou vel kan droog en jeukerig voel, asof geen vogroom genoeg is nie,” verduidelik sy.

Maar dis júis belangrik dat jy jou vel nou voldoende voed. “Produkte wat kollageen terugsit, help om jou vel te verhelder. ’n Serum sorg dat jou vel produkte goed absorbeer, sodat vogroom nie net op die oppervlak bly lê nie,” is velsorgkenner Stephanie Hugo se raad. “As jy vroeër jou vel goed versorg het, sal jy nou die vrugte pluk.”

Grimeerkunstenaar Algria sê ’n gekleurde vogroom bo-oor jou gewone een is nou meer as genoeg. Sy glo aan baie maskara (net op die boonste wimpers) om jou oë te beklemtoon en waarsku dat jy liefs babablou oogskadu moet vermy.

“Laventel saam met bruine lyk pragtig by ’n vrou in haar 50’s. Rokerige oë is tydloos en jy kan dit ook met gemak dra,” sê sy. “Gebruik ’n blink, pêrelagtige oogpotlood op jou onderste ooglid om oë jeugdiger te laat lyk.

“Jou 50’s hoef glád nie vaal te wees nie. Kyk net hoe dra Meryl Streep en Madonna hul grimering!”