Voel jou vel droër en stywer, met fyn lyntjies en plooie skielik meer sigbaar? Ja, die winter is hier! Gelukkig ís dit moontlik om ’n gesonde fluweelvel ook in die winter te hê.

Met die draai van die seisoen na herfs en winter veroorsaak wind, koue temperature en hitte soos kaggels en verwarmers dat vog vanuit die lug onttrek word. Dit eis ’n groot tol op jou vel omdat die boonste laag, die epidermis, staat maak op water en olie om jou velwand sterk en gesond te hou. “Jou velwand verswak en dit veroorsaak fyn krakies waaruit vog makliker verdamp,” sê dr Juanita Kilian, produkontwikkeling-spesialis van die velsorghuis Nimue. Jou vel raak dan gedehidreerd en voel jeukerig, droog en grof met fyn lyntjies en plooie meer sigbaar.

1. Les jou vel se dors

Kaggels, verwarmers en dramatiese temperatuurskommelinge soos wat jy van binne na buite beweeg is die grootste sondaars wat jou velwand in die winter verswak, sê Juanita. “Daarom moet jy in die kouermaande velsorgprodukte gebruik wat spesiaal geformuleer is om jou velwand aan te vul en te herstel.” Begin deur daagliks gereeld water te drink om jou hele liggaam van binne te hidreer, sê Juanita. Kyk uit vir vogrome met bestanddele soos gliserien, silikoon en hialuronsuur. ’n Voedende gesigolie doen ook wonders om vog in jou vel in te seël.

2. Reinig reg

Die verkeerde reiniger kan ook bydra tot dehidrasie omdat sommige reinigers jou vel stroop van water. “Selfs al gebruik jy ’n uitstekende vogroom kan die verkeerde reiniger al die goeie werk van jou vogroom uitwis,” sê Juanita. Verruil jou jel- of skuimreiniger vir ’n romerige reiniger of probeer selfs ’n reinigingsolie.

3. Speel klaar met vaalheid

Vel wat gedehidreerd is lyk gewoonlik ook vaal en leweloos omdat jou vel onder meer water nodig het om natuurlik van dooie selle op die oppervlak ontslae te raak. As jou velwand nie genoeg water bevat nie, word jou vel nie doeltreffend afgeskilfer nie. Skilfer jou vel weekliks met ’n ensiem-afskilferaar af, is Juanita se raad. Dis natuurlik en bevat antioksidante. Dis ook ’n goeie plan om in ’n vitamien C-produk te belê. Dit stimuleer die vervaardiging van kollageen sodat jou vel plomper lyk, verbeter ’n oneweredige veltekstuur en laat jou vel helderder lyk.

Probeer dié produkte:

1. Placecol Clean Start Facial Milk (R295)

’n Melkreiniger soos dié werk goed in die kouer maande. By Placecol-salonne

2. Nimue Exfoliating Enzyme (R575)

Vrugte-ensieme in dié afskilferaar hel jou vel van dooie selle ontslae raak. By uitsoeksalonne

3. Exuviance Deep Hydration Treatment (R840)

Die produk is ontwikkel om jou vel ekstra vog te gee. Wend dit so drie keer per week vóór jou gewone vogroom aan. By uitsoeksalonne

4. Clarins Hydra-Essentiel Intensive Moisture Quenching Bi-phase Serum (R645, foto) en Silky Cream (R560)

Probeer die reeks vir ’n droë wintervel.

5. Dermalex Rosacea (R326)

Probeer dié room om rooiheid op jou vel teen te werk. By Dis-Chem en uitsoekapteke