Die bekende ma en dogter Sharon en Kelly Osbourne het met die skoonheidshuis M.A.C saamgewerk aan hul eie grimeerreeks, Sharon and Kelly, wat binnekort bekend gestel word.

Die reeks bevat onder meer oogskadu’s, lipstiffies en borsels wat deur Sharon en Kelly se onderskeie style geïnspireer is. Selfs die verpakking van die produkte weerspieël elkeen se kenmerkende haarkleur – die Sharon-produkversameling kom in vurige rooi verpakkings, terwyl die Kelly-produkversameling in modieuse pastelpers verpakkings te sien gaan wees.

Kelly Osbourne ontwerp haar eie plusgrootte modereeks

Sharon en Kelly oor hul produkversamelings:

“Die oogskadupalet is my gunsteling omdat die kleure so veelsydig is. Dit was vir my belangrik om vier skakerings te kies wat goed by bruin en rooi hare sal pas, asook kleure wat vir vroue van my ouderdom sal werk,” het die 61-jarige Sharon oor haar produkversameling gesê. Haar oogskadupalet bevat skakerings soos brons, bruin en nude, terwyl haar lipstiffies in skakerings soos beige, karamel en roos beskikbaar is.

Sharon Osbourne se produkversameling in die M.A.C. Sharon and Kelly-grimeerreeks Sharon Osbourne se produkversameling in die M.A.C Sharon and Kelly-grimeerreeks

Kelly wou vir haar produkversameling jong, vars en prettige skakerings kies wat by alle velkleure sou pas. Sy het ook haar gunsteling-skoonheidsgeheim verklap: “Ek glo ’n outydse skeerroomborsel is die beste manier om onderlaag aan te wend, daarom het ek só ’n tipe borsel vir my versameling gekies.” Kyk uit vir helderkleurige lipstiffies in pienk, pers en oranje skakerings, asook vir oogskadu-kleure in pastelpers kombinasies.

Kelly Osbourne se produkversameling in die M.A.C. Sharon and Kelly-grimeerreeks Kelly Osbourne se produkversameling in die M.A.C. Sharon and Kelly-grimeerreeks

M.A.C se Sharon and Kelly-reeks is van 7 Augustus vir ’n beperkte tyd by M.A.C-winkels en uitsoekwinkels van Edgars beskikbaar. Pryse wissel van R180 tot R650.

Sharon Osbourne: my lyf kan net sóveel sny vat - lees meer