Verdryf die koue met warm kleure – Tana Ferreira (Voorbladgesigwenner 2012)

“My gunsteling-produk vir die winter is beslis ’n bloedrooi lipstiffie: Revlon Super Lustrous Lipstick in Revlon Red (R110). Dis ’n warm skakering wat my blou oë komplementeer.”

Tana op verlede November se SARIE-voorblad.

Die koue wind op stel verg spesiale velsorg – Donnalee Roberts, Annelie in 7de Laan (SARIE-voorblad: Januarie 2013)

“Met die seisoens-verandering gaan my vel gewoonlik deur ’n bietjie van ’n hickup! Ek het ’n olierige vel, maar onder al die olie is dit asof my vel vreeslik gedehidreer is. Ek dink dit het te doen met die swaarder grimering en die warm ligte op stel, veral as jy 12 uur van die dag tonele opneem! Ek glo in Nimue se Super Hydrating Serum (R601) – dis ’n great produk wat my vel bevog.”

Nimue Super Hydrating Serum is ideaal vir Donnalee, wie se vel olierig én gedehidreer is.

Die belangrikste produk is jou bevogtiger – Amalia Uys, voorheen San-Mari in 7de Laan (SARIE-voorblad: Maart 2013)

“Skoonheid begin mos maar by jou vel en met dié dat die lug droër in die winter is, verloor jou vel vinniger vog. Daarom dink ek die belangrikste is ’n goeie bevogtiger. As jy nie gelukkig is met jou vel nie, voel jy mos ongelukkig oor alles! My gunsteling-bevogtiger is Dermalogica se Skin Smoothing Cream (R790 vir 100 ml). Die room is ryk maar nie olierig nie. En omdat dit ’n dag- én nagroom is, spaar jy geld ook!”
*Amalia drink ook baie water en eet broccoli, veral voor ’n groot geleentheid. Sy glo dit laat haar vel gloei.

Room is grillerig, maar badolies doen die truuk! – sangeres Corlea Botha (SARIE-voorblad: April 2013)

“Ek het van kleintyd af hierdie ding – moenie vra hoekom nie – waar ek my doodgril as ek aan room vat! Dit is natuurlik ‘n groot probleem wanneer my lyf so droog word in die winter. Daarom verkies ek om olie wat wateroplosbaar is by my badwater te gooi. Dit laat my vel ongelooflik voel. En BioNike se Lip Restructuring Biogel (R65 vir die buisie) help net so baie in die winter vir my droë lippe."

BioNike se Lip Restructuring Biogel is die ideale antwoord op droë lippe in die winter, sê Corlea Botha.

S? hou jy die ekseem weg – Nadia Valvekens, Binneland se Nadia (SARIE-voorblad: Mei 2013)

“Ek kry my lewe lank al ekseem en my vel is in die winter ekstra droog. Maar ek het gevind wanneer ek in die winter elke aand Bio-Oil (R66 vir 125 ml) aan my vel smeer, kry ek nie ekseem nie én dit maak my vel sag en mooi! Dit werk vir my, maar ek weet nie of ander mense so gelukkig gaan wees nie.”