Carolina Herrera de Baez, die dogter van die modeontwerper Carolina Herrera en die neus agter dié huis se gewildste parfuums, is tans in Suid-Afrika om plaaslike vroue wat borskanker het, by te staan.

Carolina Herrera de Baez, die kreatiewe direkteur van Carolina Herrera se geure, loods dié maand die Support with a Smile-veldtog in samewerking met die Breast Health Foundation. Dié veldtog gaan vir die volgende 5 jaar elke jaar R1 miljoen skenk om plaaslike vroue wat aan borskanker ly emosionele, fisieke, praktiese en geestelike ondersteuning te bied vanaf die oomblik wat hulle gediagnoseer word tot aan die einde van hul behandeling.

In samewerking met die Breast Health Foundation, wat deur dokter Carol Ann Benn gestig is, mik dié veldtog om elke week 40 nuwe pasiënte te ondersteun.

Carolina glo dat 'n wens ’n spesiale krag besit. Dít was die inspirasie vir vanjaar se beperkte uitgawe Carolina Herrera-parfuum, CH Pink Wish 2013 (R1 100 vir 100 ml EDT, net by Edgars en Red Square-winkels). Wanneer jy dié parfuum in Oktober koop, word daar boonop ’n gedeelte van die geld aan die Breast Health Foundation geskenk!

FOTO: www.carolinaherrera.com FOTO: www.carolinaherrera.com

As deel van dié veldtog het Carolina Herrera ook ’n “wenswolk” begin. Besoek www.chpinkwishcloud.com in Oktober om jou grootste wens vir iemand wat dit nodig het, die wêreld in te stuur. Vir elke wens wat gemaak word, gaan Carolina Herrera ’n pienk of rooi lint aan Support with a Smile se gelukbringer (’n mannekyn wat lewensgroot is) se romp vasmaak. Uiteindelik gaan dié romp, wat gemaak is uit linte, die wense van kankerlyers se geliefdes simboliseer. Dié romp sal in 2014 opgeveil word om verdere fondse vir die Breast Health Foundation in te vorder.

Die geur Carolina Herrera L’Eau het ook ’n spesiale verbintenis met Suid-Afrika. Nie net is een van die sleutelbestanddele die Suid-Afrikaanse blomme freesias nie,  die advertensieveldtog is ook deur die fotograaf Koto Bolofo wat in Suid-Afrika gebore is, geskiet!