Haar gesig het al op meer as 500 voorblaaie verskyn. Nou is die Duitse model Claudia Schiffer op 39 die gesig van ’n splinternuwe geur vir D&G. Sy het eksklusief met SARIE gesels Die idee agter dié reeks geure is selfverwesenliking. Dink jy die karakter wat jy verteenwoordig, La Lune (R720 vir 100 ml EDT), wat verwys na die maan, weerspieël iets van wie jy is?
Ek dink dit verteenwoordig ’n aspek van my persoonlikheid, maar nie alles nie. La Lune is ek in my kalmer oomblikke. Daar is beslis kere dat ek meer voel soos Le Bateleur (’n verleidelike mansgeur in die reeks), en dan sal ek ’n geur wil dra wat dít uitdruk. Dis die lekkerste ding van hierdie versameling: Ek kan geur gebruik om uit te druk hoe ek elke dag voel. Hoe dink jy moet geur ’n mens laat voel?
Dit laat my vry voel. Die geur wat jy kies, druk uit hoe jy gevoel het toe jy dit aangespuit het. Mense assosieer verskillende geure met verskillende buie en emosies – dis hoekom die verskeidenheid in dié reeks so goed werk. Hoe sal jy La Lune in jou eie woorde beskryf?
’n Vrou wat straal. Sy het ’n kalmte in ’n mal, deurmekaar wêreld. Hoe kry jy dit reg om so suksesvol te bly as model in so ’n moeilike bedryf?
Ek is baie gelukkig om so ’n lang loopbaan te hê en ek geniet wat ek doen. Ek dink mense het deesdae ’n ander houding oor ouderdom en ervaring en ek glo gevestigde modelle kan iets opwindends en nuuts verteenwoordig, net so goed soos modelle wat pas begin het. Ek probeer om altyd die fotograaf se visie te interpreteer en te help om die storie te vertel. Ek is nooit skaam wanneer ek voor die kamera is nie – inteendeel – en dis nogal verrassend, want ek is van nature baie skaam. Wat is jou skoonheidsgeheime?
Moet nooit jou hare 100% droog blaas nie – los dit effens klam om meer tekstuur en minder kroes te kry. Ek dra altyd so min as moontlik grimering wanneer ek nie werk nie. Ek gebruik gewoonlik net vogroom,’n tikkie verbloemer en soms maskara, lipsalf en parfuum. Wie inspireer jou?
Ek het nog nooit een spesifieke ikoon gehad nie. Ek probeer om skoonheid in vele uiteenlopende vroue raak te sien. Hoe kry jy dit reg om ’n balans tussen jou gesins en werklewe te kry? (Claudia is getroud met rolprentvervaardiger Matthew Vaughn en hulle het ’n seuntjie en dogtertjie, Caspar Matthew, 6, en Clementine de Vere Drummond, 4.)
Om’n ouer te wees verander jou denkwyse en dit laat jou jou prioriteite heroorweeg. My lewe is nou heeltemal anders en niks is vir my belangriker as my familie nie.

Só werk die nuwe geur-reeks “Wie is ek en wie wil ek wees?” was die vraag wat Italiaanse modeontwerpers Domenico Dolce en Stefano Gabbana gevra het toe hulle hul nuutste geurversameling geskep het. Met dié reeks van 5 geure kan jy jouself elke dag nuut uitdruk, of jou enkele gunsteling kies.
1 Le Bateleur – ’n uitlokkende, vars mansgeur met kuskusgras en koljander.
3 L’Impératrice – ’n blommegeur vir vroue, beskryf as “onkeerbaar”.
6 L’Amoureux – sensueel en manlik met hartnote soos kardemom.
10 La Roue de la Fortune – ’n uitdagende katjiepiering- en vanieljegeur vir mans én vroue. 18 La Lune – ’n hipnotiese vrouegeur met soetemaling en lelie.
Die supermodelle Naomi Campbell en Eva Herzigova is onderskeidelik die gesigte van ’Impératrice en La Roue de la Fortune.