JOU BASIESE VELSORGROETINE

Soveel nuwe gesigprodukte maak hul verskyning dat dit nogal oorweldigend kan wees om die regte kombinasie te kies. ’n Basiese velsorgroetine is natuurlik altyd die belangrikste. Daarna kom die ekstras. Ongeag jou velsoort behoort die volgende deel te wees van jou daaglikse roetine, skryf die internasionale velsorgkenner Paula Begoun in haar boek Don’t Go to the Cosmetics Counter Without Me, 9de uitgawe (R295, beskikbaar by www.paulaschoice.co.za).

’n Produk wat sag reinig

’n Reiniger wat jou vel sag skoonmaak, werk vir alle velsoorte. Vermy reinigers wat jou vel droog laat voel. Soek ’n wateroplosbare reiniger wat nie jou oë irriteer nie.

’n Afskilferaar

Dié produk raak van dooie selle op die veloppervlak ontslae sodat jou vel straal. Dit kan selfs help om verstopte porieë in toom te hou. ’n Produk met AHA (alfahidroksisuur, soos glikol- of melksure) of BHA (betahidroksisuur, ook genoem salisielsuur) is goeie keuses omdat dit jou vel egalig afskilfer. Lees die verpakking, sommige afskilferaars kan jy daagliks gebruik en ander een of twee keer per week.

Vogroom

Wend ’n vogroom in die oggend en die aand aan. ’n Ligte room met ’n waterige of jeltekstuur werk gewoonlik goed vir ’n olierige of kombinasie-vel. Vir ’n droë vel werk ’n dikker, ryker vogroom goed.

’n Sonskerm

Dis belangrik om elke dag van die jaar, winter en somer, beskerming teen die son aan te wend. Sonblootstelling veroorsaak onder meer lyntjies en donker vlekke. Maak seker jy bedek jou vel met ’n produk wat ’n SBF van 30 of hoër het en wat jou vel beskerm teen UVB- én UVA-strale.

velsorgKlik hier om die beste ekstra produkte vir jóú vel te kies:

Serum

Basislaag (primer)

BB-room

CC-room

Onderlaag