Watter vrou is nie mal oor lipstiffie nie? Dis bekostigbaar en net een veeg is nodig om jou voorkoms en bui te omtower. Lus vir iets nuuts in jou skoonheidskas? Ons het gaan uitvind watter lipstiffieskakerings dié nuwe seisoen ’n móét-hê is.

Chris Williams, plaaslike grimeerkunstenaar van Estée Lauder, verduidelik hoe om dié kleure te dra:

Roesbruin

Die afgelope jaar maak die negentigerjare ’n terugkeer en daarmee saam ook dié dekade se gewilde bruin lipstiffieskakerings. Met roesbruin lyk jy selfversekerd en supermodern. Enigiemand kan die skakering dra solank die kleur ’n warm rooi ondertoon het, sê hy..

Dra dit só:

Kies ’n roesbruin lipstiffie met ’n satynafwerking om jou lippe definisie te gee en effens te versag. Hou die res van jou grimering lig met ’n tikkie verligter op jou wange, glans op jou ooglede en hope maskara.

Chris se wenk: Wend eers ’n bietjie verbloemer aan jou lippe om enige rooiheid te neutraliseer. Wend daarna jou roesbruin lipstiffie aan. Die kleur gaan mooier en helderder vertoon.

Ster-inspirasie: Ashley Benson

Eiervrug-purper

Smeulende pers lipstiffies is steeds gewild en lyk waaghalsig en verleidelik. Vir die kouer maande is ’n purper lipstiffie met ’n bruin, swart of donkerpers ondertoon in die kol.

Dra dit só:

Donkerpers skakerings is geneig om jou lippe kleiner te laat lyk. As jy dunner lippe het, kies ’n purper een met ’n effense blink of satynafwerking om jou lippe voller te laat lyk. As jy vol lippe het, sorg ’n matafwerking vir ’n treffende voorkoms.

Chris se wenk: Gee jou purper lippe subtiel glans deur ’n bietjie goue oogskadu liggies in die middel van jou lippe te tik nadat jy jou lipstiffie aangewend het.

Ster-inspirasie: Lucy Hale

A post shared by Lucy Hale (@lucyhale) on

Steenkool-swart

Danksy die herlewing van gotiese glans in die mode- en skoonheidswêreld is swart op jou lippe tans ’n reuse-tendens. As jy waaghalsig genoeg is om dié skakering te dra, kies ’n lipstiffie met ’n blink afwerking wat jy laag op laag kan aanwend om die kleur sagter of meer intens te laat lyk. Gelukkig pas ’n gitswart skakering by alle vel- en haarkleure.

Dra dit só:

Maak jou swart lippe die fokuspunt en hou die res van jou voorkoms klassiek en sag vir balans. Vul jou wenkbroue in en wend ’n warm blosserskakering aan jou wange. Rond dan jou voorkoms af met net ’n dun lyntjie oogomlyner en maskara.

Wenk: Donker lipstiffies beklemtoon dikwels krakies en droogheid op jou lippe. Skilfer daarom gereeld jou lippe liggies met ’n lipskrop af.

Ster-inspirasie: Rihanna

A post shared by badgalriri (@badgalriri) on

Sonsondergang-rooi

Elke vrou behoort ’n rooi lipstiffie in haar grimeersakkie te hê. Dié seisoen se rooi lipstiffie het ’n effense oranje ondertoon vir ’n jeugdige, stylvolle voorkoms.

Dra dit só:

’n Rooi lipstiffie met ’n matafwerking bly ’n staatmaker. Dis treffend, hou lank op jou lippe en smeer nie maklik nie. Hou die res van jou grimering eenvoudig. Net ’n dun lyntjie vloeibare oogomlyner en maskara is nodig.

Ster-inspirasie: Emma Stone

Sandpienk

’n Natuurlike (nude) lipkleur bly altyd in die mode. Dis seisoenloos en laat jou gemaklik lyk, sê Chris. Dié herfs is neutrale skakerings met ’n vuilpienk ondertoon gewild. Dit lyk veral mooi by ’n ligte velkleur.

Dra dit só:

Sagte rokerige oë met aardse oogskadu-skakerings is die perfekte pasmaat vir jou neutrale lippe. Gebruik daarmee saam ’n tikkie verbronser op jou wange om jou gelaat songlans in die kouer maande te gee.

Ster-inspirasie: Jessica Alba

Probeer dié lipstiffies:

1. Max Factor Colour Intensifying Balm in Rich Chocolate (R140)

By Clicks

2. Urban Decay Vice Lipstick in Blackmail (R230)

3. Estée Lauder Pure Color Love Lipstick in Moon Rock (R295)

4. Catrice Velvet Matt Lip Cream in REDvolution (R70)

By Dis-Chem

5. The Balm Read My Lips Lip Gloss in Snap! (R250)

By Stuttafords