Valentynsdag is om die draai! Bederf jouself én die man in jou lewe met ’n verleidelike geur-geskenk. Omdat geur en emosie so nou verbind is, kan die reuk van parfuum en sekere parfuumnote jou sintuie stimuleer, opgewonde laat voel en selfs jou seksdrang prikkel, berig Refinery29.com. Dit laat jou ook begeerlik en spesiaal voel.

FOTO's: Aktrise Rolanda Marais se wittebrood

Volgens parfuumkenners wakker dié vyf parfuumnote romanse aan...

Muskus

Muskus is een van die gesogste natuurlike bestanddele wat in parfuum gebruik word, maar dis ook een van die duurste rou materiale, selfs duurder as goud. Dié gewilde parfuumbestanddeel is oorspronklik verkry uit ’n klier van die muskushert wat in die Himalajas van Afghanistan tot China voorkom. Die meeste muskus wat vandag in parfuum gebruik word, is egter sinteties vervaardig. Danksy muskus se oorsprong het dit ’n sterk animalistiese geur wat sensueel en verleidelik is.

Vanielje

Hoewel die geur van vanielje maklik as gewoon afgemaak kan word, is dit ’n natuurlike wellusprikkel (aphrodisiac). Dis ’n warm reuk wat ons dikwels terugvoer na ons kinderdae, sê Jody Bunkell, plaaslike groep-kommunikasiehoof van Clarins, ook die verspreider van parfuums soos Azzaro. Die geur word ook wêreldwyd geassosieer met geluk.

Jasmyn

Die sensuele blomnoot het ’n groot aantrekkingskrag omdat dit ’n spesifieke aromatiese samestelling genaamd indool bevat wat ook natuurlik in die menslike liggaam vervaardig word.

Kruisement

Die kenmerkende vars geur van kruisement stimuleer jou sintuie en word geassosieer met opwinding en avontuur.

Laventel

Volgens kenners is mans en vrouens geneig om van vars en skoon reuke te hou, soos die kenmerkende soet geur van laventel.

Dít dra bekendes om selluliet weg te steek

Hier is ons keuse van die 10 sexyste geure vir hom en haar

Kyk hiér na Dior Sauvage se smeulende advertensie-video met Johnny Depp

Bronne: www.refinery29.com, www.femalemag.com, www.wisegeek.com