Trudie Loren, visepresident van parfuumontwikkeling wêreldwyd vir Aramis & Designer Fragrances, verduidelik die basiese parfuumbeginsels.

Wat is die verskil tussen Eau de Parfum (EDP), Eau de Toilette (EDT) en ’n Parfum?
Elkeen verteenwoordig ’n verskillende konsentrasie van die parfuumolie in ’n geur. Perfume of parfum is die gekonsentreerdste en sal die langste hou. Dit bevat 12 – 30% van die parfuumolie.’n EDP is byna so gekonsentreerd soos die parfum, maar die EDT is heelwat ligter en bevat iets tussen 4 – 18% parfuumolies. Dis waarom ’n EDT se geur nie so lank op jou vel sal hou nie.

Wat is die grootste foute wat vroue maak wanneer hulle ’n parfuum kies?
Om te veel geure op een slag te probeer. Ná so drie geure begin almal dieselfde ruik. Vroue kies ook ’n geur na aanleiding van hoe dit op die papierstrokie ruik. Jy móét dit op jou vel spuit, want 'n parfuum ruik anders op elkeen van ons.

Is dit ’n mite dat parfuum jou vel laat verkleur wanneer jy in die son kom?
Parfuums bevat meestal nie fotosensitiseerders nie, aangesien dit deur die bedryf gereguleer word.  Daarom is die meeste veilig vir gebruik in die son, maar as jy ’n baie sensitiewe vel het, spuit dalk liewer die parfuum op jou klere.

Watter note is die belangrikste wanneer jy ’n geur kies die top-, middel- of basisnote?

Die meeste vroue kies ’n parfuum op grond van die topnote (die geur wat jy eerste ruik), aangesien ons dikwels so gejaagd is.  Maar jy kan eers waarlik die geur ervaar wanneer jy by die hartnote uitkom. Dis die note waaraan jy ’n geur sal onthou en dis ook die note wat een geur van ’n ander onderskei.

Wat is geurfamilies?
Geurfamilies word in die algemeen gebruik om parfuums met ooreenstemmende note saam te groepeer. Die families is nie vas nie en die indeling is ook baie subjektief. Wat vir een persoon ’n vrugtige Oosterse geur is, is dalk iets heeltemal anders vir die volgende persoon. Net soos daar verskillende soorte wyn is, is daar verskillende geurfamilies. Jou reaksie op elke familie is persoonlik en irrasioneel, want jou sin vir geur is ’n emosionele sintuig.

Kies die meeste vroue parfuums in dieselfde geurfamilie?
Vroue hou gewoonlik van sekere families, aangesien hulle baie van dieselfde bestanddele bevat. Sommige
vroue kan dalk geure uit verskillende families verkies, indien hulle hou van ’n verskeidenheid geure vir
verskillende geleenthede.

Wat is die verskil tussen ’n essensiële olie en ’n parfuumolie?
’n Essensiële olie is ’n enkele roumateriaal, soos jasmyn of kuskusgras (vetiver). Parfuumolie is gewoonlik
’n hoë konsentrasie van ’n geur wat met ’n oliebasis gemeng is.