Kies die regte skakering

Kies ’n kleur wat nie meer as twee skakerings donkerder of ligter as jou huidige haarkleur is nie. Só sal jy nie groot skrik nadat jy jou hare gekleur het nie en daar is ’n groter kans dat die kleur soortgelyk aan die een op die boksie sal wees. As jy van donker hare na ligte hare, of van lig na donker wil gaan, moet jy dit geleidelik doen.

As jou hare donker is, kan jy dit nie meer as twee skakerings ligter kleur nie, want die ligte kleur gaan nie sigbaar wees op jou donker hare nie. As jy dít wil doen, is dit beter om na ’n haarkapper toe te gaan wat die kleur van jou hare kan verwyder. Kleur jou hare ook geleidelik donkerder. As dit skielik donker is, is jy maklik geskok en jy kan nie jou hare terugkleur nie!

Koop volgens syfers en kodes

FOTO: Elmari de Vos FOTO: Elmari de Vos

Die kleurkodes (gewoonlik drie syfers wat die intensiteit van die skakering aandui) op die verpakking van tuishaarkleur is dieselfde – slegs die maak en die naam van die kleur verskil, maar die skakering sal dieselfde wees vir al die handelsmerke. Koop dus altyd volgens dié kode! Daar is ook drie vlakke van haarkleur (1, 2 en 3). 1 is tydelike haarkleur wat ná ses tot agt wasse uitwas; 2 is semi-permanente haarkleur en bly vir 28 wasse in jou hare. As jy oor die skakering twyfel, kan jy altyd ’n nommer 1 of nommer 2 koop. As jy dan tevrede is, kan jy dit permanent kleur. 3 is permanente kleur en was nie uit nie, maar kan steeds vaal word. Buitengewone kleure soos helderrooi word gewoonlik vinniger vaal as meer natuurlike skakerings.

[box:full:both:red]

Soek dié eienskappe op die tuiskleurstel

  1. Vlak van die kleur (1, 2 of 3)
  2. Skakering (onthou om die kode te soek en nie die naam van die kleur nie)
  3. Formules (ammoniak of nie?)
  4. ’n Betroubare vervaardiger of handelsnaam
  5. Eindresultaat – moenie meer as twee skakerings van jou huidige kleur af wegbeweeg nie

[/box]

Grys hare

Wanneer daar op ’n boksie staan dat die kleur grys hare toemaak, is dit gewoonlik permanente haarkleur of kleur van ’n goeie gehalte. Jy kan dié haarkleur ook op hare gebruik wat nog nie grys is nie.

Hoe goed "vat" die kleur?

Hare wat nog nie voorheen gekleur is nie, kleur gewoonlik moeiliker. Dié hare is gesond, wat beteken die kutikels, wat soos skubbe oor mekaar lê, is nog geslote. Sodra jou hare beskadig word, lig die kutikels egter op. Dit veroorsaak dat die kleur makliker in die kutikel gaan lê en daarom makliker op jou hare wys. Daarom sal haarkleur vinniger vat op die ouer, beskadigde hare by jou punte – dié dat jy eers begin kleur by jou wortels. Probeer om haarkleur op ongewaste hare met min produkte (soos jel en haarsproei) te sit. Dié produkte vorm ’n laag bo-op jou hare wat maak dat die haarkleur moeilik intrek. As jou hare reeds meer as een keer gekleur is, sal dit ’n nuwe kleur moeilik wys. Gee jou hare daarom af en toe ’n ruskans.

Hoe gemaak met ammoniak?

Haarkleur sonder ammoniak veroorsaak minder skade aan jou hare, maar die kleur was gewoonlik vinnig uit. Dis omdat die ammoniak help om die haarkleur in jou hare toe te sluit. Jy moet dus kies tussen hare waarvan die kleur langer hou, maar wat meer sorg nodig het, en hare wat meer gereeld gekleur moet word, maar wat minder sorg verg.

Sorg wat kleur laat hou

Goeie tuissorg is die sleutel vir haarkleur wat langer hou. Gebruik ’n sjampoe, opknapper en masker wat ontwikkel is om gekleurde hare te behandel. Dit sal jou hare beskerm en herstel én die kleur verleng. Hitte maak jou haarkleur vaal. Gebruik daarom produkte wat dit teen die haardroër, stileerders en son beskerm. Haarkleur beskadig nie net jou hare nie, dit verdwyn ook makliker uit beskadigde hare. Begin daarom betyds behandelings gebruik om jou hare te herstel en te beskerm. Chloor en soutwater stroop jou hare se kleur, so spoel jou kop af nadat jy in water met dié chemikalieë was. Gee die haarkleur ook kans om in jou hare te gaan lê – wag 24 uur voor jy jou hare was nadat jy die haarkleur uitgespoel het.

[box:full:both:red]

Tipes skade aan hare

Hoe meer skade daar aan jou hare is, hoe vinniger sal die kleur daarvan vaal word. Pasop vir die volgende oorsake van skade aan jou hare en behandel dit betyds! Omdat dié faktore jou hare se gesondheid beïnvloed, sal dit ook ’n impak hê op die kleur van jou hare:

  1. Ouderdom: Jou hare breek en word droog en vaal namate dit ouer word.
  2. Die omgewing: Die son, besoedeling en selfs die see se soutwater laat die kutikels van jou hare vinniger oplig sodat die kleur ook makliker uitloop.
  3. Chemikalieë: Haarkleur, perms en die chemiese behandelings wat jou hare reguit maak, breek jou hare af. Dan is daar ’n tekort aan proteïene en vog in jou hare, wat keer dat die haarkleur in jou hare opgesluit word.
  4. Hormonale verandering: Dit sluit stadiger aktiwiteit op jou kopvel, minder hare en hare wat dunner word, asook skilfers in.
  5. Sielkundige verandering:Soos wat jou stresvlakke verander, verander die toestand van jou hare. Vir baie mense lei spanning tot haarverlies.
  6. Medisyne: Sommige medikasie bevat bestanddele wat jou hare se kleur, dikte en selfs jou kopvel beïnvloed.

[/box]

Probeer een van die volgende wanneer jy weer jou hare kleur: Schwarzkopf Color Mask in 910 Pearl Blond (R130 by Clicks), Wella Koleston Color Crème in 3/0 Dark Brown (R150 by Clicks en Dis-Chem), L'Oréal Excellence Creme in 8.13 Natural Frosted Blonde (R140), Clairol Nice 'n Easy Colour Blend Technology in 110 Natural Light Auburn (R100) of Garnier Color Sensation in 6.35 Chic Orche Brown (R60).