Bekendes soos Melinda Bam, Karlien van Jaarsveld en Kurt Darren vertrou Gary Rom en sy span met hul hare. Nou blog dié span van Gary Rom Hairdressing vir ons oor alles wat jy moet weet vir die mooiste kapsel!

Dié week deel Monique Visagie, haarstilis by Gary Rom se salon in Woodlands, 6 wenke om jou hare perfek uit te blaas.

  • Moenie jou haardroër op die hoogste hitte stel nie. As jy fyn hare het, gebruik die koelste verstelling terwyl jy jou hare droogblaas sodat dit makliker kan set.

  • Blaas jou hare seksie vir seksie droog. Dan blink dit meer én dit maak die kutikel-laag ekstra-glad.

  • Gebruik altyd produkte wat jou hare teen die hitte van die haardroër en stileeryster beskerm. Dit voorkom dat dié warm toestelle jou hare beskadig.

  • Blaas die boonste gedeelte van jou hare asook jou haarlyn (die sogenaamde halo-seksie) in die teenoorgestelde rigting as waarin dit groei. Dit gee jou meer volume.

  • Vryf jou vingers deur jou hare terwyl jy dit blaas totdat dit byna 70% droog is voordat jy dit met ’n borsel uitblaas. Só stel jy jou hare bloot aan minder hitte én jou hare behou meer vog om dit meer elasties en buigbaar te maak.

  • Om seker te maak jou hare blink mooi en voel glad, kan jy hare met koue lug blaas ná dit droog is.

monique gary rom

*Monique Visagie is ’n meester-haarstileerder by Gary Rom Hairdressing Woodlands (012 997 5468)

Nóg wenke van die Gary Rom-span op SARIE.com