Vel wat straal en gesond is, laat ’n vrou goed voel. Dis bemagtigend en gee haar selfvertroue. Boonop het aanraking die vermoë om spanning te verlig en jou gemoedstoestand te verbeter.

Daarom glo Isabel Carstens-Roos, besturende direkteur van die Isa Carstens Akademie, ’n naam sinoniem met die beste in die SA velsorgbedryf, in die rol wat ’n goed opgeleide terapeut in ’n kliënt se lewe speel. “Vandag het skoonheidsterapeute gevorderde estetiese masjiene wat uitstekende resultate lewer tot hul beskikking, maar die fisieke aanraking en omgee wat ’n terapeut kan bied, vorm steeds die basis van ’n behandeling,” meen sy. “Deur vir die kliënt ’n veilige en rustige omgewing te skep kan sy van die daaglikse gejaag wegbreek en op haarself fokus. Daarna sorg die aanbevole tuissorgprodukte en gereelde behandelings dat elke vrou met ’n gesonde vel kan spog.”

Dis dié persoonlike aanslag en voortdurende strewe na die hoogste standaarde wat deel is van die Isa Carstens Akademie. Hul suksesverhaal het begin toe Isabel se ma, die Kaapse velsorgterapeut Isa Carstens, in die vroeë 1970’s gesukkel het om goed opgeleide terapeute te vind om in haar skoonheidsalon op Stellenbosch te werk. Sy het toe self terapeute begin oplei, en in 1978 is die akademie gebore. Vandag spog dit met twee kampusse – een op Stellenbosch en een in Pretoria – waar hulle ’n driejaardiploma in somatologie, ’n eenjaar- gevorderde diploma deur middel van afstandsonderrig en ’n rits kortkursusse aanbied.

Van die begin af was dit vir Isa belangrik om terapeute op te lei met deeglike en indiepte-kennis van die vel en sy werkinge. Sy wou studente toerus om op enige plek in die wêreld as skoonheidsterapeut te kan werk. Daarom was die akademie die eerste in SA wat deur die wêreld se voorste raad vir kosmetiekstandaarde, die Comité International d’Esthétique et de Cosmétologie (Cidesco), geakkrediteer is. As lid van Cidesco word die akademie se kwalifikasies internasionaal erken en het hulle toegang tot die jongste inligting en ontwikkelinge in die bedryf.

“Dit verseker dat studente van die Isa Carstens Akademie opleiding het in ’n verskeidenheid tegnieke en in ’n mediese omgewing saam met estetiese dokters kan werk,” sê Isabel

Het jy geweet?
Die Isa Carstens Akademiekampusse het elk ’n salon, die Isa Carstens Wellness Sanctuary, wat die publiek kan besoek vir enigiets van ’n ontspannende massering tot diepafskilferingsbehandelings

FOTO Verskaf
FOTO Verskaf
Isa Carstens FOTO Verskaf
Isa Carstens FOTO Verskaf
Isa Carstens se Pretoria-kampus FOTO Verskaf
Isa Carstens se Pretoria-kampus FOTO Verskaf
FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images
Isabel Carstens Roos FOTO Charles Russel
Isabel Carstens Roos FOTO Charles Russel

1978: Isa Carstens open die eerste Cidescogeakkrediteerde skool vir skoonheidsterapeute in SA op Stellenbosch

1984: Die aanvanklike eenjaarkursus in skoonheidsterapie word verleng tot twee jaar

1994: Isa Carstens ontvang die gesogte Médaill d’Esthétique van Cidesco vir haar bydrae tot opleiding. Sy is die eerste Suid-Afrikaner om dié medalje, wat nog net aan ’n handvol mense toegeken is, te ontvang.

2007: Die Isa Carstens Akademie word as ’n private hoëronderwys-verskaffer by die nasionale departement van hoër onderwys en opleiding geregistreer. Die akademie word ook deur die Raad vir Hoër Onderwys geakkrediteer.

2007: Isabel Carstens Roos ontvang die Médaille du Mérite vir hoë standaarde en professionaliteit van Cidesco.

2011: ’n Tweede Isa Carstens Akademie-kampus word in Lynnwood, Pretoria, geopen.

2012: Die akademie gooi hul gewig agter die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sankub) se projekte om die afrikapikkewyn van uitwissing te red. Daar is ’n spesiale rede agter dié verbintenis. “Met die ontstaan van die ICA het die studente ’n swart-en-wit uniform gedra en is hulle mettertyd deur Stellenbossers die ‘Isa-pikkewyne’ gedoop,” vertel Isabel. “Toe ons in 2007 die ontwerp van ons uniform verander, was ek bang dat die geliefde bynaam vir ons studente sal verdwyn. Vandaar ons besluit om as deel van ons gemeenskapsverantwoordelikheid by Sankub se geldinsamelingsprojekte betrokke te raak en só ’n verbintenis met die pikkewyne te behou.”

2018: Die Isa Carstens Akademie vier hul 40ste bestaansjaar en stel hul deeltydse eenjaardiploma in dermale estetika vir reeds gekwalifiseerde terapeute bekend. Dié kursus leer studente hoe om estetiese behandelings soos microneedling, naaldlose mesoterapie, IPL- en laserbehandelings te doen.

Besoek Isa Carstens se webtuiste, Instagram en Facebook-blad vir meer inligting. 

SARIE Voorbladgesig word met trots aangebied in samewerking met Jimmy Choo ParfumsINOAR, die Isa Carstens Akademie en Kalahari Lifestyle