Die kleur kakie is aanvanklik in die 1800's deur die Britse weermag in Indië gedra, maar daar is lankal nie meer 'n skeidslyn tussen kakie as kamoeflering en as modegier nie.

Dié aardse, stofkleurige tint maak gereeld 'n verskyning op loopplanke reg oor die wêreld en dit pryk ook op jou oë.

Skoonheids- en selfs 'n paar modehuise soos Maybelline, Chanel, Dior en Burberry het dié gier aangevuur deur spesiale oogskadu-palette in kakie skakerings bekend te stel.

SARIE het by Francois Ferreira, nasionale grimeerkunstenaar van Dior, meer uitgevind oor die kakie neiging: Francois Ferreira Hoekom is kakie nou so 'n groot tendens vir oë?

Daar is tans 'n neiging om terug te keer na die natuur en min kleure vier die natuur soos kakie. Boonop pas kakie by die meeste uitrustings en bots dit nie maklik met ander kleure nie.

Wat is jou gunsteling-manier om kakie op oë te dra?

Wend beige oogskadu oor jou hele ooglid en volg dan met kakie bo-oor. Rond die voorkoms af met swart oogomlyner.

Dink jy dié tendens gaan lank in die mode wees?

Kakie is 'n modekleur wat elke nou en dan in die kollig is. Kry gerus vir jou kakie grimering, jy gaan dit beslis wil dra!

Vir watter soort geleentheid sal jy 'n kakie oog aanbeveel?

'n Kakie oog sal goed werk as jy beige of uitrustings met aardse kleure aantrek. Probeer dit gerus ook by swart vir trefkrag – bedags of in die aand.

Wie kan almal kakie ooggrimering dra?

Almal kan!