Daar is nie altyd tyd en geld om vir ’n manikuur te gaan nie, maar jy kan dit maklik tuis doen! Volg dié 10 stappe om jou hande in top-kondisie te hou:

Stap 1: Verwyder jou naellak

Gebruik naellakverwyderaar en haal al die naellak van jou naels af.

Stap 2: Knip en vyl jou naels

Knip jou naels die lengte wat jy dit wil hê met ’n naelknipper en gee dit dan vorm met ’n naelvyl. Moet nooit ’n naelvyl gebruik om jou naels korter te maak nie, want dit sal hulle beskadig.

Wenk: Vyl jou naels in een rigting - dit voorkom wrywing wat naels kan breek.

Stap 3: Week jou hande in warm water

Sit jou hande in ’n bak met louwarm water en week dit vir so 3 minute om jou kutikels (naelvelletjies) sag te maak.

Stap 4: Skilfer jou hande af

Gebruik sommer ’n lyfskrop wat jy reeds het en skilfer jou hande af om dit sag te maak. Droog dan jou hande af met ’n handdoek.

Stap 5: Druk jou kutikels terug

Gebruik nou ’n naelstokkie (orange stick) en druk die kutikels versigtig terug tot teenaan jou naelbed. Probeer om dit nie met ’n kutikel-knipper te knip nie omdat dit kan lei tot infeksie.

Wenk: Draai ’n klein stukkie watte om die punt van die naelstokkie om dit sagter te maak op jou naels.

Stap 6: Maak jou naels skoon

Dit is belangrik om enige olierigheid van jou naels te verwyder sodat jou naellak langer kan hou. Vee net weer oor jou naels met watte wat in naelverwyderaar gedoop is om dit te doen.

Stap 7: Wend ’n deursigtige naellak aan

Deur eers ’n deursigtige naellak aan te wend sorg jy dat kleur langer gaan hou en kan jy keer dat donkerder skakerings jou naels vlek.

Stap 8: Wend twee lae van jou gunsteling-kleur naellak aan

Sorg dat die eerste laag heeltemal droog is vóór jy ’n tweede een aanwend. Jou kleur sal só langer hou.

Stap 9: Wend nóg ’n laag deursigtige naellak aan

Sodra dié laag droog is, kan jy ’n oorstokkie wat met naelverwyderaar natgemaak is, gebruik om enige naellak wat op jou vingers is af te haal en die voorkoms netjies te laat lyk.

Stap 10: Bevog jou hande met ’n handeroom

Roomkleurige naels is groot!

Naellakke in skakerings soos beige, wit en ligpienk (nudes) was dié nael-trend op die rooitapyt vanjaar by geleenthede soos die Golden Globe-, BAFTA- en Grammy-toekennings.

Hier is ’n paar van ons gunsteling-produkte om jou eie nude-naels te skep:

20140220_111908

Van links na regs: Skep jou eie Franse manikuur met Justine Colour Studio Colour Care French Manicure (R180); Naellak word vinnig droog met ’n spuit van O.P.I RapiDry Spray (R410 vir 120 ml); Ice Box colors Nail Lustre in Nude Ice (R110 vir 15 ml); In Touch Nail Enamel in Sedon's Got A Big Ole Butte (R32 vir 5 ml)

Probeer ook:

Al ooit gehoor van jel-naellak? Dit is ’n sterk tipe naellak wat op ’n seker manier aangewend word en die afwerking van jel-naels gee. Dit verg gewoonlik ’n besoek aan die salon, maar jy kan dit nou self doen! Essence het ’n hele reeks produkte, essence gel nails at home, waarmee jy by die huis jel-naellak kan aanwend. Dit hou boonop tot 10 dae lank! Beskikbaar by Dis-Chem.

composing gel nails at homePryse:

  • essence gel nails at home cleanser (R30)
  • essence gel nails at home primer (R30)
  • essence gel nails at home peel off gel base (R40)
  • LED-lamp (R250)
  • essence gel nails at home french gel top coat (R40)
  • essence gel nails at home clear gel top coat (R40)
  • essence gel nails at home starter kit (R130)

Kyk hier na ’n video oor hoe die essence gel nails at home werk: