Kry jou voete solank gereed vir die lente met dié maklike stappe van Charlene Warwick, grimeerkunstenaar en voorkomskonsultant van Face & Grace Make-up Agency, om self jou pedikuur by die huis te doen.

Stap 1: Verwyder jou naellak

Verwyder alle naellak van jou tone met naellakverwyderaar en maak onder jou toonnaels skoon.

Stap 2: Knip jou toonnaels

Knip jou toonnaels die lengte wat jy dit wil hê met ’n naelknipper.

Stap 3: Week jou voete in warm water

Laat jou voete vir sowat 10 minute in ’n bak met louwarm water week om jou kutikels (naelvelletjies) sag te maak. Droog daarna jou voete af met ’n sagte handdoek.

Bang om jou voete te wys? Hier's raad!

Stap 4: Druk jou kutikels terug

Gebruik nou ’n naelstokkie (orange stick) en druk die kutikels van jou toonnaels versigtig terug tot teenaan jou naelbed. Moet egter nie die kutikels knip nie, want dit kan lei tot infeksie.

Stap 5: Skilfer jou voete en bene af

Gebruik ’n lyf- of voetskrop en skilfer jou voete, hakke en bene af om dit sag te maak en droë selle te verwyder. Verwyder die afskilferaar met louwarm water, droog jou voete af en smeer dan ’n vogroom aan jou voete, hakke en bene.

Stap 6: Maak weer jou naels skoon

Dit is belangrik om alle olierigheid van jou naels te verwyder sodat jou naellak langer hou. Vee weer met watte wat in naellakverwyderaar gedoop is oor jou toonnaels om enige oorblywende olierigheid te verwyder.

Die top-10 kleure vir jou naels dié seisoen

Stap 7: Wend ’n deursigtige basislaag-naellak aan. ’n Basislaag sorg dat die kleur langer hou en voorkom dat donkerder skakerings jou toonnaels vlek.

Stap 8: Wend twee lae naellak aan

Wend twee lae van jou gunsteling-kleur naellak aan. Wag minstens een minuut vóór jy ’n tweede lagie aanwend.

Stap 9: Wend ’n boonste laag deursigtige naellak aan

Om jou pedikuur langer te laat hou kan jy elke tweede dag wéér ’n boonste lagie deursigtige naellak aanwend.

Probeer dié produkte vir jou tuis-pedikuur:

Skin Republic Foot Rescue 20 Minute Treatment (R45)

OPI Feet Double Coverage Moisturiser (R285)

Clinique A Different Nail Enamel in Sweet Tooth (R185)

Essie Nail Polish in Marshmallow (R120)

Sally Hansen Big Shiny Top Coat (R80)

Nails Inc Kensington Caviar Conditioning Base Coat (R125)

Só kry jy stap vir stap vloot-geinspireerde naels