Watter simboliek het die appel-ontwerp van die parfuumbottel vir jou?
New York staan nie verniet bekend as die Groot Appel nie - dit bruis van lewe. Die bottel is geïnspireer deur 'n brons-appelstandbeeld van 2 ton wat my man voor sy dood voltooi het. Hy het dit as 'n geskenk geskep,'n manier om iets terug te gee aan New York, ons tuisstad. (Die standbeeld word uitgestal in Hudsonpark naby die Hudson-rivier.) Ons was besig om aan Be Delicious, die eerste geur in die DKNY Be Delicious-reeks, te werk, en alles het net inmekaar gepas - die simbool van New York, Stephan (my man) se standbeeld en die geur self.

Waarom dink jy bly die appel relevant as simbool?
Dit beeld onskuld én verleiding uit. Jy móét net 'n hap daaruit vat! Die appel is ook universeel en toeganklik vir almal. Visueel lyk hulle pragtig wanneer hulle in rye gepak word. New York se Koreaanse kruideniers verkoop appels op elke hoek. Hoe meer ons oor die vrug se prag en simboliek nagedink het, hoe meer het ons besef dat alles daaromtrent perfek is om 'n geur rondom te bou.

Hoekom het jy nog 'n toevoeging tot die DKNY Be Delicious-reeks gemaak met Fresh Blossom? (Daar is reeds 3 geure in die reeks.)
Die meeste vroue is soos ek: Hulle soek 'n versameling geure om elke emosie of bui uit te druk. Vroue is ook mal oor blomme. Fresh Blossom is geïnspireer deur die appelbloeisel, so dit is die perfekte kombinasie van blomme, appels en lente in New York - appelbloeiselbome groei oral in Central Park.

Hoe beïnvloed mode jou geure?
Mode en geur kom uit dieselfde aspek van 'n ontwerper en raak dieselfde dinge in die vrou wat dit kies. Albei is emosioneel en word só ontwerp dat dit deel word van jou. Dis 'n uitdrukking, iets wat jy elke dag dra, iets sensueels wat in verhouding staan met jou liggaam.

Hoe definieer jy skoonheid, en wat maak 'n vrou vir jou mooi?
Skoonheid gaan oor individualiteit en hoe gemaklik iemand met hulself is. Dit kom regtig van binne na buite. Dit kan nie en sal nie andersom werk nie. Jy móét mooi voel - maak nie saak hoe jy lyk nie - vir ander om jou skoonheid op te merk.

Hoe sal 'n vrou weet as sy haar kenmerkgeur gevind het?

Dit word deel van haar - dit voel net reg. Vir my is dit soos 'n tweede vel,'n deurskynende laag klere.

Wat beteken styl vir jou?
Individualiteit, persoonlike uitdrukking en om jouself en jou lyf te ken.

Wat is die grootste ontdekking wat jy oor skoonheid gemaak het?
Skoonheid ís van binne. Ons werk is om dít aan te raak wat reeds daar is.

Hoe bly jy innoverend ná soveel jare in die bedryf?
Ek bly op my tone en is heeltyd op die uitkyk vir inspirasie, nuwe maniere om dinge te doen. Ek hou my eie klerekas-behoeftes en dié van my vriende, familie en kliënte dop. Ek het 'n honger vir nuwe dinge. Ek voel nooit "ek het dit gedoen" nie. Daar is altyd meer om te verken, meer om te sê, meer om te ervaar. Kyk maar net die vooruitgang in materiaaltegnologie alleen!

Wat inspireer jou?
Enige en elke plek. New York se strate; my vele reise om die wêreld, veral in Afrika! Ek het verlede somer regoor Afrika gereis en teruggekeer met 'n oorvloed idees uit al die stamme en kulture wat ek beleef het. Ek is passievol oor reis en om nuwe kulture te ervaar. Soos my mentor Anne Klein (ook 'n mode-ontwerper) gesê het: "Jy't twee oë, gebruik hulle!"

Donna Karan-geure is te kry by uitsoektakke van Edgars, Truworths, Foschini, Stuttafords en Woolworths.